
Erling Braut Håland van Borussia Dortmund het Saterdag die eerste doel in die Bundesliga sedert Maart aangeteken. Foto: Reuters
Die terugkeer van die Bundesliga agter geslote deure het Saterdag meer as ses miljoen kykers vir die Duitse uitsaaier Sky gelok.
Dít was ’n rekord vir sokker op ’n betaalkanaal in Duitsland.
Regstreekse sokker het ná ’n onderbreking van twee maande weens die koronavirus-pandemie na die Duitse televisie terugkeer.
Altesaam 3,68 miljoen kykers het ingeskakel op die wedstryde wat in hul geheel Saterdag uitgesaai is. Dit is meer as dubbeld die getal wat gewoonlik op ’n Saterdag wedstryde in dié reeks kyk.
Daarbenewens het nóg 2,45 miljoen kykers die “Konferenz” gevolg. Dít was ’n uitsending waarin daar tussen vyf wedstryde gewissel is, wat gelyktydig gespeel is.
In Saterdag se hoofwedstryd het Erling Braut Håland die eerste doel in die Bundesliga sedert die begin van Maart vir Borussia Dortmund teen sy buurman Schalke aangeteken.
Dortmund het dié derby met 4-0 gewen om sy tweede plek in die Bundesliga se puntelys te verstewig. Bayern München het Union Berlin met 2-0 getroef om sy voorsprong van vier punte boaan die puntelys te handhaaf.
’n Woordvoerder van die Duitse Sokkerbond, die DfB, het aan AFP gesê meer as 70 uitsaaiers wêreldwyd het die wedstryde die naweek uitgesaai.
Die Duitse liga was die eerste Europese liga om weer ná die inperking weens die Covid-19-pandemie te begin. Die Duitse regering het ná lang onderhandelings ingestem om weer die liga met streng veiligheidsmaatreëls, waaronder geen toeskouers by wedstryde nie, weer toe te laat. – Sport24.co.za