Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Sokkerbase sê nee dankie vir Boris

Europa se sokkerbeheerliggaam, Uefa, het gesê hy is vol vertroue dat hy die aanbod van die Britse eerste minister, Boris Johnson, dat Brittanje meer wedstryde van die uitgestelde Euro2020-toernooi kan aanbied, van die hand sal wys.

Euro2020 se wedstryde, wat weens die koronaviruspandemie reeds met ’n jaar uitgestel is, word vir Junie en Julie vanjaar beplan. Kragmetings sal in 12 lande plaasvind. Gerugte het egter die laaste paar weke die ronde gedoen dat Uefa beplan om al die wedstryde eerder in Brittanje te hou omdat Covid-19-inentings daar veel verder gevorder is as die res van Europa.

Londen se beroemde Wembley-stadion is reeds die gasheer vir die halfeindronde en die eindstryd van die toernooi, maar Johnson het aangebied dat Brittanje meer wedstryde kan aanbied.

Die poniekoerant The Sun het verlede week onthul dat die Verenigde Koninkryk beplan om alle reëls vir gesonde afstande teen Junie vanjaar af te skaf. Euro2020 is geskeduleer om van 11 Junie tot 11 Julie plaas te vind.

Boris Johnson, eerste minister van Brittanje, wil hê meer Euro2020-wedstryde moet in die Verenigde Koninkryk aangebied word. Foto: Reuters

“Ons bied al reeds die halfeindwedstryde en die eindstryd aan. Ons is meer as bereid om meer wedstryde aan te bied. Dit is waar ons tans met Uefa is,” het Johnson gesê.

Uefa het nie direk geantwoord op Johnson se aanbod nie, maar het die media verwys na ’n vorige verklaring waarin die beheerliggaam sê hy wil hou by sy oorspronklike plan om die wedstryde in 12 lande aan te bied. ’n Finale besluit oor die toernooi se reëlings sal in April geneem word.

Dr. Daniel Koch, Uefa se mediese amptenaar en hoof van Covid-19-beplanning, het verlede week gesê dat daar geen kans is dat die toernooi uitgestel of afgestel sal word nie.

“Ons hou ons opsies oop om meer toeskouers by die wedstryde toe te laat as dit moontlik is,” het Koch aan Reuters gesê.

Uefa het verlede jaar gesê hy oorweeg vier moontlike scenario’s – vol stadions, 50% tot 100% vol, 20% tot 30% vol of leë stadions – vir die toernooi.

Zbigniew Boniek, president van die Poolse Sokkervereniging en ’n lid van Uefa se uitvoerende komitee, het gesê gerugte dat Uefa dit oorweeg om die toernooi in slegs een land aan te bied, is gewis nie waar nie.

“Ek praat daagliks met mense by Uefa en diegene wat die toernooi reël en kan sê die gerugte is onsin.

“Na my mening is dit makliker om die toernooi in 12 lande as in een aan te bied.”

Benewens Londen is Glasgow, Dublin, Bilbao, Amsterdam, Kopenhagen, München, Rome, St. Petersburg, Boekarest, Boedapest en Bakoe geskeduleer om wedstryde aan te bied. – Reuters

Meer oor:  Boris Johnson  |  Uefa  |  Covid-19  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.