Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Sokkerbreier gepos ná sy span te ver wen

’n Italiaanse jeugsokkerklub het sy afrigter afgedank weens ’n oorwinning van 27-0 – en die breier was nie eens aan die ontvangkant van die loesing nie.

’n Italiaanse sokkerafrigter is sy pos kwyt omdat sy span ’n wedstryd met 27-0 gewen het. Foto: Getty Images

ESPN.com berig Invictasauro se o.18-afrigter Massimiliano Riccini is deur die klub se president Paolo Brogelli geroskam vir ’n gebrek aan respek en die vernedering van die laaste span in die junior liga, Marina Calcio, met 27-0 verlede naweek.

Tiberio Pratesi, direkteur van Marina Calcio se sukkelende jeugspan, sê die klub gaan gebuk onder beserings en moes selfs ’n buiteveldspeler op doelwagter inspan.

Volgens hom het Invictasauro, boaan die punteleer, Marina Calcio geminag. Hy het toe ná afloop van die kragmeting teenoor beamptes gekla. Een van die Invictasauro-spelers het sewe doele aangeteken in die eensydige affêre, terwyl twee van sy spanmaats elk ses keer die doelhok gevind het.

Brogelli bevestig in ’n verklaring dat Invictasauro Riccini afgedank het omdat hy vir Marina Calcio se vernederende nederlaag verantwoordelik was.

“Ons was verslae en met diep berou gevul toe ons hoor ons jeugspan het Marina Calcio met 27-0 geklop. Dit stem nie ooreen met die waardes van jeugsokker nie. Jy moet altyd jou teenstanders respekteer en dit het nie in hierdie geval gebeur nie,” sê Brogelli.

“Ek vra as president onvoorwaardelik om verskoning aan die Marina-klub. Ek wil ook aankondig dat ons direkteure eenparig besluit het om afrigter Riccini af te dank.

“Ons afrigters se taak is om jong spelers te brei, maar bo alles anders om hulle op te voed. Dit het nie in hierdie geval gebeur nie.”

Riccini het intussen teruggekap oor die besluit om hom te pos.

“Niemand in ons span het op die veld gedraf met die gedagte om ons teenstanders te verneder of ’n bespotting van hulle te maak nie,” sê Riccini.

Hy sê om 27 doele op o.18-vlak aan te teken, is nie oneerbiedig nie.

“Die ware nederlaag is om te sien hoeveel skynheiligheid, banaliteit en sielsarmoede voortvloei sonder enige kennis van die feite.” 

– Sportredaksie

Meer oor:  Massimiliano Riccini  |  Invictasauro  |  Marina Calcio  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.