
Antoine Griezmann Foto: Getty Images
Die Franse sokkerspeler Antoine Griezmann het nie ’n probleem om sy drie kinders se verjaardae te onthou nie – al drie is op 8 April gebore.
Toe die Franse Wêreldbeker-wenner Donderdag op sosiale media bekend maak dat sy vrou, Erika Choperena, die lewe geskenk het aan hul dogter, was dit verstommend genoeg op dieselfde dag as hul ander kinders – Mia (gebore in 2016) en Amaro (gebore in 2019).
Griezmann (31) speel sy klubsokker vir Barcelona.
Terwyl dit seldsaam is dat drie kinders wat verskeie jare uit mekaar gebore is, dieselfde verjaardag deel, het die Griezmanns nog ver om te gaan om die Guinness World Records te haal.
Vyf van Carolyn en Ralph Cummins van Amerika se kinders is tussen 1952 en 1966 op 20 Februarie gebore. Die kans daarvoor is een uit 17,8 miljard. – Reuters