Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Ole senuagtig voor Old Trafford-stryd
Ole Gunnar Solskjaer sal Woensdag angstig wees om op Old Trafford nog rede vir Manchester United se ondersteuners te gee om te glimlag. Foto: AP Images

Sy eerste wedstryd as tussentydse afrigter van die sokkerklub Manchester United het op die perfekte noot geëindig, maar Ole Gunnar Solskjaer sal Woensdag ’n senuagtige man wees wanneer die span vir die eerste keer onder hom by Old Trafford uitdraf.

Sedert Solskjaer die leisels by José Mourinho oorgeneem het, het die span Cardiff City met 5-1 oorrompel.

Woensdag kry hy die geleentheid om die tweede sege vir sy span se ondersteuners te behaal wanneer hulle teen ’n sukkelende Huddersfield te staan kom.

“Natuurlik probeer jy jou emosies in toom hou, want ek is daar om ’n werk te doen en moet daarop fokus,” sê Solskjaer op United se webblad.

“Ek dink nie dit gaan maklik wees nie, maar ek sien uit daarna en ek dink ook die spelers sien uit daarna om op Old Trafford te speel.

“En dis die sleutel – ons behóórt uit te sien om daar te speel.”

United het nog net vyf uit 12 tuiswedstryde in alle kompetisies in 'n teleurstellende seisoen gewen. Die spelers het by tye gelyk of hulle sukkel om die druk te hanteer.

“Dit (die druk) kom wanneer jy 'n kontrak onderteken om vir Man United te speel,” sê Solskjaer.

“Selfvertroue is nie iets wat jy in ’n yskas wegbêre en net weer kan uithaal nie. Jy moet dit verdien deur jou vertonings, deur te oefen en ook deur hoe jy voel. Hopelik kry hulle nou die nodige hupstoot.”

Solskjaer is deeglik bewus van die druk wat daarmee gepaardgaan om vir die klub te speel. Hy het United 11 jaar lank verteenwoordig as ’n speler, met die hoogtepunt toe hy in 1999 in die Kampioene-liga die wendoel in bykomende tyd aanteken om die Rooi Duiwels se titel te verseker in die eindstryd teen Bayern München.

Mourinho is onlangs kwaai gekritiseer nadat United begin sukkel het. Talle van Solskjaer se gewese spanmaats was onder diegene wat uitgevaar het teen die voormalige afrigter, onder andere Paul Scholes, Rio Ferdinand en Gary Neville.

“Moenie bekommerd wees nie, Gary gaan hoë eise aan my stel,” sê Solskjaer.

“Ek het 11 jaar lank langs hom in die kleedkamer gesit. Hy word nou betaal om sy mening te gee en natuurlik moet hy. Ek is nie anders as enige afrigter nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.