Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Spelers uit Afrika skitter in Rusland

Sokkerspanne van Afrika vaar dalk nie so goed in die Wêreldbeker-sokkertoernooi nie, maar spelers van die vasteland skitter in ander lande se spanne.

Die Franse sokkerster Kylian Mbappé se ouers kom van Afrika.

Geen Afrika-land het nog ooit verder as die kwarteindronde van die toernooi gevorder nie. Maar die Europese spanne wat vanjaar na die kwarteindstryd van die Wêreldbekertoernooi in Rusland deurgedring het, steun swaar op spelers wat in Afrika gebore is of wie se ouers uit Afrika na Europa geëmigreer het.

In Frankryk se sokkerspan is 14 uit die 23 (60%) spelers afkomstig uit Afrika.

Kylian Mbappé, met ’n Algeriese pa en Kongolese ma, het tot dusver die meeste doele vir Frankryk in die Wêreldbekertoernooi aangeteken en gesorg vir die wendoel in Frankryk se wedstryd teen Argentinië.

Die Franse doelwagter Steve Mandanda is in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gebore.

Die Belgiese sokkerspan bestaan uit nege (40%) Afrika-spelers, insluitend Romelu Lukaku, wie se pa ’n Kongolees is.

Lukaku het al vier doele in die huidige toernooi aangeteken.

“Wanneer ek presteer, noem die koerante my die Belgiese doelskieter. Maar wanneer ek sleg speel, is ek die doelskieter van Kongolese afkoms,” het Lukaku in Junie aan die BBC gesê.

Christian Benteke, nog ’n doelskieter vir België, is ook in die DRK gebore.

Danny Welbeck (Ghana) en Dele Alli (Nigerië) is Engeland se spelers uit Afrika. Martin Olsson in die Sweedse span se ma is ’n Keniaan en Alexander Isak, ook ’n Sweedse speler, se ouers is van Eritrea.

Clive Barker, ’n Suid-Afrikaanse sokkerafrigter, sê Europese spanne is lief om spelers uit Afrika te werf, omdat hulle ’n unieke styl en buitengewone aanleg het vir die spel.

“Afrika verloor baie talentvolle spelers aan Eerstewêreldlande, waar spelers ’n beter gehalte lewe en meer geleenthede het.”

Zaheera Jinnah, verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se Afrika-sentrum vir migrasie en samelewing, sê Afrikane maak net 14% van migrante wêreldwyd uit, maar sedert 2000 het die getal migrante uit Afrika van 21 miljoen tot 36 miljoen toegeneem.

Sy sê weens die toename in migrasie wêreldwyd is gemeenskappe in veral Europa deesdae baie meer divers en word dit weerspieël in Europese sokkerspanne.

Ross Tucker, ’n sportwetenskaplike, sê Europa is ’n aanloklike plek om sokker te speel omdat spelers daar baie geld verdien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.