Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Barcelona speel kat en muis met Sundowns

Die dreunsang van die skare in die FNB-stadion neffens Soweto om Lionel Messi in aksie te sien, is in die tweede helfte van Woensdagaand se vriendskaplike wedstryd tussen Barcelona en Mamelodi Sundowns uiteindelik beantwoord.

Percy Tau van Mamelodi Sundowns breek weg met die bal met Barcelona se Yerri Mina wat hom agternasit. Foto: Gallo Images

Hoewel Messi hulle in die oorblywende kwartier nie weer  rede gegee het om so te juig nie, het Barcelona, oftewel Barca, die skouspel teen Sundowns, wat glo teen ’n fortuin gereël is, maklik gewen.

Die Spaanse kampioenspan het sy sege van 2007 in Pretoria teen Suid-Afrika se Premierliga-kampioen herhaal met ’n sege van 3-1 om met die Mandela-trofee weg te stap.

Die meeste van die Barcelona-sterre wat die uitstappie meegemaak het, was in aksie ondanks die gevaar dat hulle beserings kan opdoen voor die Wêreldbeker-toernooi in Rusland wat oor ’n maand begin. 

Messi, meesterdoelskieter van Barca, was nie in die beginspan teen Sundowns nie. 

Die ander superster Luis Suárez, wat in die 19de minuut byderhand was om af te rond, het net in die eerste helfte gespeel. 

Dié weekwedstryd, nadat Barcelona Sondag teen Levante (4-5) sy eerste nederlaag in 37 ligawedstryde gely het, het Sundowns se mynmagnaat-eienaar glo ’n yslike bedrag gekos. 

Patrice Motsepe het glo meer as R100 miljoen opgedok om die Spaanse sokkerreus weer in die land te kry. Dit behels onder meer die vlug in en dan sowat R44 miljoen vir die toergroep.

Die span het eers Woensdagoggend, die dag van die wedstryd, in die land aangekom. 

Die span se sterre was byna almal teenwoordig met uitsondering van die beseerde Franse verdediger Samiel Umtiti, asook België se Thomas Vermaelen.

Lionel Messi, die meesterdoelskieter van Barcelona in Woensdagaand se vriendskaplike wedstryd om die Nelson Mandela-trofee. Tiyani Mabunda van Mamelodi Sundowns is links. Foto: Gallo Images

Die Franse speler Ousmane Dembélé het die Katalane reeds in die derde minuut laat voorloop. 

Hy is ’n doel op ’n skinkbord gegee toe hy ’n aangee – ’n lelike blaps deur Sundowns se verdediging – onderskep het. Die plaasvervanger André Gomes het in die 66ste minuut nog ’n lelike blaps deur die tuisspan se verdediging uitgebuit vir die Spanjaarde se derde doel.

Percy Tau het kort ná die wedstryd se eerste doel ’n gulde kans, met net die doelwagter voor hom, verbrou toe hy die bal bo-oor Marc-André ter Stegen wou tik. Dié Duitse doelwagter was, toe die tuisspan se senuwees algaande bedaar het, nog ’n keer of wat op sy stukke. Hy het die moedige Masandawana kwaai gefrustreer totdat Sibusiso Vilakazi in die 76ste minuut ’n troosdoel verby hom gejaag het.

Die middelveldspeler Andrés Iniesta (34) kon die plaaslike toeskouers in sy tweede laaste wedstryd vir Barcelona nie weer met ’n doel trakteer nie. Hy groet die klub ná 21 jaar met Sondag se laaste ligastryd teen Real Sociedad. 

Iniesta was Woensdagaand een van drie spelers in Barcelona se groep wat in 2010 in die eindstryd Wêreldbeker-toernooi in die einste FNB-stadion in aksie was. Hy het destyds die wendoel in Spanje se sege met 1-0 om die kroon teen Nederland aangeteken. Die ervare verdediger Gerard Piqué, wat ook in daardie eindstryd gespeel het, het die tweede helfte begin.

Meer oor:  Sundowns  |  Lionel Messi  |  Barcelona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.