Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Taison geskors vir reaksie op rassisme
Shakhtar Donetsk se Taison is vir een wedstryd geskors. Foto: Getty Images

Oekraïne se sokkerbeheerliggaam (UAF) word deur Fifpro, wêreldsokker se spelersvereniging, daarvan beskuldig dat hy “in die hande van rassiste speel”.

CNN berig die UAF het die Shakhtar Donetsk-middelveldspeler Taison vir ’n wedstryd geskors nadat hy ’n rooikaart ontvang het vir sy reaksie teenoor rassistiese Dynamo Kyiv-ondersteuners.

Die voorval het op 10 November in ’n plaaslike ligawedstryd gebeur en Dynamo-ondersteuners is twee keer oor hulle gedrag gewaarsku.

Die 31-jarige Brasiliaan het in die 74ste minuut van die tuisspan se 1-0-oorwinning ’n groep besoekende Dynamo-ondersteuners die middelvinger gewys en die bal in hul rigting geskop.

Taison se spanmaat en landgenoot Dentinho het die rassisme aan die wedstrydskeidsregter uitgewys. Die beampte het kort daarna die spanne na die kleedkamers gestuur.

Beeldmateriaal wys hoe Taison en Dentinho albei die veld in trane verlaat.

Toe die spelers vyf minute later na die veld terugkeer, het die skeidsregter ’n rooikaart vir Taison gewys.

“Ons is baie teleurgesteld in die UAF se besluit om Taison vir ’n wedstryd te skors,” sê Fifpro in ’n verklaring.

“Om ’n slagoffer van rassisme te skors gaan die verstand te bowe en speel in die kaarte van diegene wat hulle aan sulke skandelike gedrag skuldig maak.”

Die UAF het Taison se skorsing Donderdag bevestig. Die beheerliggaam het ook Dynamo beveel om een wedstryd agter geslote deure te speel en ’n boete van £16 000 (byna R302 000) te betaal.

“Ek is lief vir my ras, ek veg vir kleur, wat ek ook al doen, is vir ons, vir liefde,” het Taison ná die kragmeting op Instagram gesê.

“My trane was weens verontwaardiging, verwerping en hulpeloosheid, hulpeloosheid omdat ek in daardie oomblik niks kon doen nie!”

Sy spanmaat Marcos Antonio sê: “Dit is verskriklik as sulke dinge in sokker gebeur.

“Die sport het ware aanhangers nodig in stede van mense wat die stadion besoek, hulself so gedra en nie die spelers respekteer nie.

“Ons moet hieraan werk, want sulke onsmaaklike gevalle ontstel ons almal.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Shakhtar Donetsk  |  Rassisme  |  Rooikaart  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.