Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Tellinghouers sit en bolle rol op Anfield

Die tafel was gedek vir ’n feesmaal op Anfield in Liverpool, maar toe loop dit uit op niks meer uit as ’n burger en skyfies in ’n kitskosrestaurant nie.

Dit was nie verwagte skouspel tussen Liverpool en Manchester United waarna die ondersteuners maande lank uitgesien het nie, want die kragmeting het met 0-0 gelykop geëindig.

Manchester United se Aaron Wan-Bissaka en Liverpool se Georginio Wijnaldum kyk ’n los bal agterna tydens die twee spanne se Engelse Premierliga-wedstryd gisteraand op Anfield. Die kragmeting het geen doele opgelewer nie, al het Liverpool besit oorheers en ’n horde kanse gehad. Foto: Getty Images

Daar was baie op die spel vir die twee groot kanonne, Liverpool en Manchester United.

Dit was die 215de keer dat hulle mekaar sedert 1895 gepak het. Dit is beskryf as die stryd van die reuse, van van die wêreld se beste spelers – die Premierliga- en Kampioenliga-wenner teen die huidige voorloper in die Premierliga.

Saam het hulle 39 Premierligatitels gewen, 19 keer die FA Cup, 13 keer die Engelse Ligabeker en 36 keer die Gemeenskapbekereeks.

En wat van al die sukses in Europa, wat te veel is om op te noem?

Maar dalk was die verwagtinge te hoog, dalk het die gebrek aan toeskouers daartoe bygedra, want die gelykopuitslag sal nie lank onthou word nie.

Liverpool het die grootste deel van die eerste helfte oorheers, Jurgen Klopp se span het 66% besit gehad en nege skote na Manchester United se doelhok gestuur.

Daarteenoor het dit Manchester United 34 minute (dit het laas in Januarie 2020 gebeur) geneem voordat die eerste skoot na Liverpool se doelhok gemik is.

Daar was meer aksie in die tweede helfte en United het tot sy reg begin kom. Paul Pogba was so byna-byna in die kol vir United in die 83ste minuut toe Allisson Becker (Liverpool-doelwagter) die kanonskoot uit die doelhok gehou het.

Daar was ook goeie lopies deur Bruno Fernandes en Marcus Rashford.

Liverpool se gevaarlike doelskieters Mo Salah, Roberto Firmino en Sadio Mane is goed in toom gehou.

Vir die rekord het Man United sy voorsprong (39 punte) in die Premierliga behou, gevolg deur Leicester City (35) en Liverpool (34).

• Tottenham Hotspur het sy swak vertoningslys teen Sheffield United op Bramall Lane op die rak geplaas toe hy Sondag se kragmeting met 3-1 gewen het.

Doele deur Serge Aurier, Harry Kane en Tanguy Ndombela het daarvoor gesorg dat Spurs slegs sy tweede van sy laaste ses Premierligawedstryde kon wen.

Dit was Spurs, wat tot vierde op die puntelys opgeskuif het, se eerste oorwinning oor Sheffield United sedert Desember 1975 nadat hy ál sewe sy vorige kragmetings verloor het.

Spurs het nou slegs drie van sy 30 wedstryde in alle reekse verloor en het vier van sy vyf wedstryde in 2021 gewen.

Sheffield United is slegs die tweede span in die Premierliga wat 16 van sy eerste 19 wedstryde verloor het ná Bolton Wanderers in 1902/’03 ook met rooi gesigte gelaat is en toe afgeskuif het.

• Frank Lampard, afrigter van Chelsea sê sy span moenie glo dat alles nou klopdisselboom sal gaan nadat die Blues onoortuigend was in Saterdagaand se sege van 1-0 oor Fulham nie.

Dit was Chelsea se tweede oorwinning in sewe wedstryde en boonop teen ’n span wat met 10 spelers moes klaarkom nadat Antoinee Roibison die trekpas gekry het vir gevaarlike spel.

Mason Mount het Chelsea se wendoel aangeteken nadat hy een van tien spelers was wat vroeër nie die kol kon tref nie.

“Slegs ’n maand gelede het ons nog hoog gevlieg, maar sedertdien het ons voortgeploeter,” het Lampard aan die BBC gesê.

“Ek is bly oor sekere aspekte van die sege, maar ons sal nie hierdeur weggevoer word nie. Dis nie maklik om perfeksie te bereik nie. Ons het die nodige talent en dit is my werk om dit reg te kry,” het Lampard bygevoeg.

• Brendan Rodgers, afrigter van Leicester City, het sy spelers uitgedaag om die Premierliga se hiërargie te ontwrig nadat Leicester ’n sege van 2-1 oor Newcastle behaal het om sodoende sy aanspraak op ’n plek in die topvier te handhaaf.

Leicester het nou sy afgelope ses wedstryde (in alle reekse) gewen nadat hy verlede maand laas teen Everton verloor het.

“Dit was ’n goeie oorwinning teen ’n goeie span. Ons was aan die begin te passief en het sosiale afstand letterlik toegepas – ons het nie naby hulle gekom nie,” het Rodgers gesê. – Reuters en BBC

Meer oor:  Engelse Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.