Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Tou mense wat Maradona se geld wil hê

Prokureurs maak hulle reg vir ’n stryd oor Diego Maradona se boedel wat tot sowat $40 miljoen kan beloop.

Onder die aanspraakmakers op die sokkerlegende se fortuin is sy kinders, voormalige minnaresse en lewensmaats asook talle ander.

Die Argentynse sokkerlegende Diego Maradona saam met sy eks-vrou, Claudia Villafane (heelregs), en dogters Giannina Dinorah (heellinks) en Dalma Nerea in 2008 in Cannes, Frankryk. Foto: Toni Anne Barson/WireImage

Die regstryd het begin binne dae nadat Maradona op 25 November aan ’n hartaanval dood is.

“Ek weet nie of hulle nie hartseer genoeg is of dalk eerste in die ry wou wees nie, maar dit is waansinnig, want elkeen kan deelneem,” sê Mauricia Dalessandro, ’n prokureur wat jare lank met Maradona saamgewerk het.

Hoewel daar nie duidelikheid is oor die presiese omvang van Maradona se boedel nie, word geglo dat dit insluit eiendom, luukse voertuie, beleggings en juweliersware in verskeie van die lande waar hy gewoon en gewerk het soos Argentinië, Spanje, Italië, die Verenigde Arabiese Emirate, Belarus en Mexiko.

Volgens die tydskrif Forbes beloop die boedel tussen $10 miljoen en $40 miljoen.

Maradona se vyf erkende kinders, ses wat daarop aanspraak maak dat hy hul pa is, asook vorige lewensmaats, sakevennote en selfs skuldeisers, wat die voormalige Boca Juniors- en Napoli-ster gedagvaar het, is deel van verskeie regsgedinge.

Maradona het vier kinders in Argentinië en een in Italië. Matias Morla, Maradona se prokureur, sê hy het egter ook vier kinders in Kuba, waar hy vir ’n tyd in ’n rehabilitasiekliniek vir drank- en alkoholverslawing was

Daar is ook twee ander in Argentinië wat aanvoer dat dié sokkerster hul pa is.

Morla het nie gereageer op Reuters se versoek om kommentaar nie.

“Diegene wat eise het, moet hul sake stel, want die hof het DNS en is aangestel om die eise van enige kinders te verifieer en bewyse te vra van hul aansprake,” sê Dalessandro.

“Hulle moet dit spoedig doen,” het hy bygevoeg.

’n Faktor wat sake verder bemoeilik, is die skuldeisers, sê Ana Rosenfield, ’n prokureur wat Maradona se voormalige vennote verteenwoordig.

Dalessandro beraam dat daar sowat 60 onafgehandelde eise in siviele howe in Buenos Aires is. Die meeste eisers dagvaar die uitgesproke Maradona vir naamskending.

Voormalige spelers, bestuurders en verslaggewers is onder diegene met hangende sake teen die voormalige Wêreldbekerwenner, het ’n regsbron aan Reuters gesê.

“Die eerste ding wat die boedel sal moet doen, is om ’n regspan aan te stel,” sê Rosenfield. – Reuters

Meer oor:  Diego Maradona  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.