Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Tovey gee Bafana raad voor Afrika-skouspel
Neil Tovey, tegniese direkteur van Safa en kaptein van die Bafana Bafana-span wat in 1996 die Afrikabeker gewen het. Foto: Argief

Die Afrikabeker-toernooi wat Vrydag in Egipte begin, is waarskynlik die moeilikste kontinentale toernooi om te wen, sê die voormalige Bafana-kaptein Neil Tovey.

Tovey was kaptein van die Bafana Bafana-span wat in 1996 die Afrikabeker-toernooi gewen het toe Suid-Afrika die eerste keer daaraan deelgeneem het.

Bafana het in die volgende twee toernooie onderskeidelik tweede en derde geëindig, maar kon daarna nooit weer verder as die kwarteindronde vorder nie.

Volgens Tovey, deesdae die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se tegniese direkteur, besef ondersteuners nie altyd hoe moeilik dit is om as Afrika-kampioen gekroon te word nie.

Wegwedstryde in die kwalifiserende rondes word dikwels in lande gespeel waar dinge so moeilik moontlik vir die teenstanders gemaak word.
Neil Tovey

In die eerste plek is dit glad nie maklik om vir die toernooi te kwalifiseer nie. Wegwedstryde in die kwalifiserende rondes word dikwels in lande gespeel waar dinge so moeilik moontlik vir die teenstanders gemaak word, wat onder meer geriewe betref.

Fanatiese tuisskares maak dit nog moeiliker.

Dit word ook nie makliker in die toernooi self nie.

“Daar is ’n groot verskeidenheid van speelstyle,” sê Tovey.

“Noord-Afrikaanse spanne speel baie soos Europese lande en dit verskil weer heeltemal van die manier waarop die spanne van Wes-Afrika speel. Dan het jy nog die Oos-Afrikane en die spanne van die suidelike streek . . .

“Die verskillende style beteken dat jy baie vinnig moet aanpas.”

Boonop word die Afrikabeker-toernooi elke twee jaar gespeel. Sommige waarnemers meen dit plaas ekstra druk op spanne en dat dit eerder elke vier jaar moet plaasvind, soos met die Euro-toernooie.

Tovey stem nie saam nie.

“Afrika is verskillend. Afrika wil hê dat sy spelers erkenning kry en op die wêreldtoneel verskyn. Die toernooi vervul dié doel met talentsoekers van elders in die wêreld wat op Afrika toesak.”

Volgens Tovey was die sokker-owerhede in Afrika wys genoeg om te verseker dat die toernooi nie meer in dieselfde jaar as die Wêreldbeker-toernooi plaasvind nie.

Dit is ook van die begin van die jaar na die middel van die jaar geskuif sodat dit nie met Europese klubsokker se bepalings bots en wrywing tussen klubs en lande oor die dienste van spelers veroorsaak nie.

Neil Tovey hou die Afrikabeker omhoog nadat Bafana Tunisië in die eindstryd van 1996 se toernooi met 2-0 geklop het. Foto: Argief

Tovey se outobiografie wat hy saam met Ernest Landheer geskryf het, Neil Tovey: A Captain’s Journey, het onlangs verskyn en daarin vertel hy onder meer van Bafana se triomf in 1996.

Hy sê Bafana het destyds in die groepfase probeer om nie druk op hulself te plaas nie.

“Vir ons het dit net daaroor gegaan om die volgende wedstryd te wen. Soos die toernooi gevorder het, het ons as ’n span gegroei en het die nasie bankvas agter ons begin staan.

“Dit het die verwagtinge van ondersteuners kwaai laat toeneem en teen die halfeindronde was die gevoel dat ‘ons nou van julle verwag om te wen.’

“Die druk het nogal erg toegeneem van die halfeindronde af,” onthou Tovey.

Hy sê ondersteuners moet nie vooraf te opgewonde raak oor Bafana se kanse in vanjaar se toernooi nie.

Bafana speel Maandag teen die Ivoorkus, volgende Vrydag teen Namibië en op Maandag, 1 Julie teen Marokko.

Al Bafana se groepwedstryde word in die Al-Salaam-stadion in Kaïro gespeel.

Tovey se raad aan vanjaar se span is om die voorbeeld van 1996 se wenners te volg.

“Bafana moet dit stap vir stap neem, wedstryd vir wedstryd. Moenie druk op julself plaas nie.”

Meer oor:  Neil Tovey  |  Egipte  |  Suid-Afrika  |  Bafana Bafana  |  Sokker  |  Afrikabeker-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.