Die voormalige Duitse verdediger Christoph Metzelder se hofverhoor op aanklagte van die besit en verspreiding van kinderpornografie begin op 29 April.

Christoph Metzelder word aangekla van die besit en verspreiding van kinderpornografie. Foto: Getty Images
Die Düsseldorf-distrikshof het bevestig hy gaan voort met ’n saak deur die staatsaanklaer teen die 40-jarige Metzelder. Hy staan tereg op 29 aanklagte van poging tot die verspreiding van kinderpornografie aan ’n ander persoon, asook een aanklag van die besit van kinder- en jeugpornografie.
Volgens die hof gaan Metzelder die aanklagte teenstaan.
“Die hoofverhoor is om te bepaal of die aantygings in die akte van beskuldiging waar is. Die beskuldigde word as onskuldig beskou totdat die verrigtinge afgehandel is,” sê ’n woordvoerder vir die hof.

Christoph Metzelder vier ’n doel vir Schalke 04. Foto: Getty Images
Metzelder het ’n suksesvolle loopbaan saam met Preußen Münster, Borussia Dortmund, Real Madrid en Schalke geniet.
Hy het 47 wedstryde vir die Duitse nasionale span gespeel en sy land gehelp om die eindstryde van die Wêreldbekertoernooi in 2002 en Europese Kampioenskap in 2008 te haal.
Metzelder het ná sy uittrede kortstondig as ’n kenner vir die uitsaaier ARD gewerk.
Hy het die leisels neergelê as president van sy tuisklub TuS Haltern in September 2019 toe die aantygings teen hom openbaar gemaak is.
– Sportredaksie