Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Vroeë Kersgeskenk vir Liverpool

Die Liverpool-sokkerspan het ’n reusetree gegee om sy eerste Engelse Premierliga-titel sedert 1990 te wen toe hy Bournemouth Saterdag met 3-0 geklop het én Manchester United vir Manchester City met 2-1 getroef het.

Jonny Evans van Leicester City nadat hy Sondag sy span se derde doel teen Aston Villa aangeteken het.Foto: Getty Images

Man City is nou 14 punte agter Liverpool en vir ’n groter Kersgeskenk kon Liverpool skaars gevra het.

Leicester City (38 ligapunte), wat Sondag met 4-1 oor Aston Villa geseëvier het, is steeds algeheel tweede en agt punte agter Liverpool (46).

Dit was Leicester City se agtste agtereenvolgende oorwinning.

Daar was Saterdag groot drama in die Premierliga toe Tottenham Hotspur se Son Heung-min een van die seisoen se beste doele aangeteken het nadat hy die bal oor byna die hele lengte van die veld gedribbel het voordat hy dit in die doelhok besorg het.

Spurs het Burnley met 5-0 afgeransel.

Dan het Everton se instaanafrigter, Duncan Ferguson, sy span tot ’n sege van 3-1 oor Chelsea aangespoor het in sy eerste probeerslag agter die stuur.

United, wat Spurs vroeër in die week verslaan het, het City onkant betrap met doele deur Marcus Rashford en ’n strafdoel deur Anthony Martial in die eerste helfte.

United se doelwagter, David de Gea, moes diep delf in die tweede helfte om die bal uit die doelhok te hou, veral nadat Nicolas Otamendi die kol vir Man City getref het.

United het sy oorwinning verdien – die eerste keer dat die afrigter, Ole Gunnar Solskjaer, dit as speler en afrigter in dié derbywedstryd kon smaak.

“Ons sal dié ene onthou. Ons was gevaarlik toe ons besit gehad het teen een van die beste spanne in die wêreld,” het Solskjaer gesê.

Pep Guardiola, Man City se afrigter, wou nie te veel uitbrei oor sy span se huidige posisie op die puntelys nie.

“Dit is nie nou die tyd om daaroor te dink nie. Ons moet dink wat ons in ons volgende wedstryd moet doen. Dit maak nie saak of dit ses, agt of 14 punte is nie, ons moet aanhou. Ons is ’n fantastiese span,” het Guardiola gesê.

Liverpool, wat sy vorige twee wedstryde teen Bournemouth met 4-0 gewen het, is nou die eerste keer onoorwonne in 14 opeenvolgende wedstryde.

Alex Oxlade-Chamberlain, Naby Keita en Mohamed Salah het Liverpool se drie doele aangeteken.

Die enigste suur by die soet was die besering van die verdediger Dejan Lovren, hoewel die afrigter, Jurgen Klopp, volhou het dat hy die veld weens krampe verlaat het.

Spurs het in die Tottenham Hotspur-stadion na die wenpad teruggekeer ná sy slae teen Man United met ’n skittersege oor Burnley.

Hoewel Harry Kane twee doele aangeteken om sy totaal in nege wedstryde tot agt op te skuif, was Son in die kollig met sy langafstand-doel.

“Son het vandag die hoofrol vertolk,” het Kane gesê.

“Dit was ’n ongelooflike doel van ’n teenaanval af. Al wat hy wil doen, is om hard te werk en vir die span te speel,” het Kane oor dié Suid-Koreaan gesê. – Reuters

Meer oor:  Liverpool  |  Manchester City  |  Engelse Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.