Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘White Lives Matter’-banier ontstel
Die banier wat Maandag bo die Etihad-stadion vertoon is. Foto: Getty Images

Die Engelse Premierliga-klub Burnley is “verleë en verstom” weens ’n banier met die woorde “White Lives Matter Burnley” wat Maandag aan ’n vliegtuig bo die Etihad-stadion vertoon is in sy wedstryd teen Manchester City.

Die vliegtuig het oor die stadion gesirkel kort ná die afskop in City se oorwinning met 5-0.

Die spelers en bestuur van albei klubs het oomblikke vantevore die knie gebuig in ’n huldeblyk vir die “Black Lives Matter”-beweging.

“Aanhangers soos daardie verdien nie om by sokker betrokke te wees nie,” sê Ben Mee, kaptein van die Clarets.

“Ons is verleë, ons is verstom. Dit is ’n minderheid van ons ondersteuners – ek weet ek praat namens ’n massiewe gedeelte van ons aanhangers wat onsself van enigiets soortgelyk distansieer.

“Dit het beslis ’n groot uitwerking op ons gehad om dit (die banier) in die lug te sien.

“Ons is verleë dat die banier ons naam bevat het, dat hulle die boodskap aan ons klub probeer koppel het – dit behoort nie enigsins naby ons klub nie.”

Burnley het hom in ’n verklaring oor die kwessie uitgelaat.

“Die banier verteenwoordig op geen wyse waarvoor die klub staan nie en ons sal ons volle samewerking aan die owerhede gee om die verantwoordelikes te identifiseer.

“Burnley veroordeel ten sterkste die optrede van diegene wat verantwoordelik was vir die vliegtuig en die beledigende banier.

“Ons wil dit duidelik stel dat die verantwoordelikes nie welkom is by Turf Moor nie.

“Ons vra onvoorwaardelik om verskoning aan die Premierliga, aan Manchester City en aan almal wat help om die Black Lives Matter-veldtog te bemark.”

Burnley en City het albei truie gedra met die spelers se name wat met “Black Lives Matter” vervang is.

Die Premierliga het sedert sy hervatting op 17 Junie sy ondersteuning gewys vir die beweging vir rassegelykheid ná die dood in polisieaanhouding van George Floyd in die VSA verlede maand.

Floyd, ’n 46-jarige Afro-Amerikaanse man, is dood nadat polisielede hom in Minneapolis, Minnesota op ’n teerstraat vasgepen het en een sy knie op sy keel gehou het. Die voorval het betogings oor ras en polisiewreedheid wêreldwyd tot gevolg gehad.

Die banier het agter ’n vliegtuig gewapper. Foto: Getty Images

Micah Richards, voormalige verdediger van Manchester City, sê dit was “ontmoedigend” om die banier te sien.

“Nadat ons die afgelope klompie weke so ver gekom het, dit maak my werklik seer,” sê hy.

“Ek stem saam dat almal vryheid van spraak moet geniet, maar sodra dit gelyk het asof sake verbeter, steek ’n minderheid kop uit wat dit wil bederf.”

– Reuters, Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.