Die Australiese Ope sal moontlik met ’n week of twee uitgestel word terwyl onderhandelinge tussen die organiseerders, die tennistoere en die Victoria-regering nog nie afgehandel kon word nie.

Martin Pakula, Victoria se minister van sport en toerisme. Foto: Getty Images
Tennis Australië (TA) het Saterdag ’n verslag verwerp wat “bespiegel” het dat die Grand Slam moontlik teruggeskuif kan word van sy geskeduleerde datum van 18 tot 31 Januarie.
“Daar is ’n aantal potensiële datums waarna gekyk word,” het Martin Pakula, Victoria se minister van sport en toerisme, in Melbourne gesê.
“Ek het berigte gesien wat reken dat dit waarskynlik is dat dit met ’n week of twee uitgestel sal word. Ek dink steeds dit is baie moontlik.
“Dit is egter nie die enigste opsie nie. Soos julle weet, is die Franse Ope met verskeie maande uitgestel en Wimbledon het nie eens plaasgevind nie. Ek dink wel dat dit met ’n korter tydperk eerder as ’n langer tydperk uitgestel sal word.”
Dan Andrews, Victoria se premier wat Dinsdag dié staat se 25ste dag sonder enige nuwe koronavirusgevalle gevier het, sê dat hy vol vertroue is dat die toernooi sal voortgaan, maar dat die spelers eers in isolasie geplaas sal word.
“Ons sal ’n Australiese Ope-tennistoernooi hê . . . maar dit gaan anders lyk,” het Andrews gesê.
“Die res van die wêreld is in vlamme, so daar sal isolasie wag op enigiemand wat ons stad of staat binnekom. Daar is geen ander manier nie.
“Ek dink die tydsbepaling sal naby wees aan die normale datums, maar daardie besonderhede moet nog gefinaliseer word.
“So belangrik as wat ’n tennistoernooi is, gaan ons nie ons koronavirus-status in gedrang bring deur enigiets minder as die hoogste standaarde te handhaaf nie,” het hy verder gesê.

Roger Federer vier sy oorwinning oor John Millman op die Australiese Ope in Januarie. Foto: Getty Images
Pakula sê dat die regering reeds op die punt is om die besonderhede rondom die isolasie met gesondheidsowerhede te finaliseer.
“Die vereistes vir kwarantyn sal dit wees waarop eindelik ooreengestem word met die gesondheidsowerhede en dan sal dit ’n kwessie vir die ATP en WTA wees oor of dit aanvaarbaar is,” het hy bygevoeg.
“Streng toetse sal op die spelers wag voordat hulle vertrek en ook wanneer hulle arriveer.”
Craig Tiley, toernooi-direkteur van die Australiese Ope, het Sondag in ’n verklaring gesê dat hy oortuig is dat hy “binnekort” die gesondheidsmaatreëls sal kan aankondig.
Die TA beplan glo ook om al die Australiese Ope se toernooie wat in die aanloop tot dié toernooi plaasvind, soos die ATP-beker, van Victoria na ander stede in die land te skuif. – Reuters