Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
VSA het ook nou ’n Amanda op die tennisbaan

Die toeskouers by die Auckland Ope-tennistoernooi het Donderdag waarskynlik een van die sport se belowendste opkomende sterre in aksie gesien.

Die 17-jarige Amerikaner Amanda Anisimova het die Tsjeggiese veteraan Barbora Strycová, die vyfde gekeurde, met 6 – 3, 6 – 3 op die hoofbaan kafgedraf.

Die 17-jarige Amerikaner Amanda Anisimova onderweg na haar sege Donderdag oor die veteraan Barbora Strycová, vyfde gekeur in die Auckland Ope. Foto: Getty Images

Anisimova, op 17 die jongste speler in die voorste 100 op die wêreldranglys, het as promotorskeuse in Auckland speelkans gekry.

Strycová, 33ste op die wêreldranglys, het in die tweede ronde hard probeer om die tiener tot oorgawe te dwing, maar Anisimova het gewys sy beskik oor indrukwekkende talent en dat sy nie sommer in groot wedstryde jelliebene gaan kry nie. Sy was deurentyd gefokus en het met slim spel die veteraan van die baan gevee. Sy het die hoeke gereeld opgesoek om Strycová van links en regs op die agterbaan rond te jaag en het dan die wenner met krag gebêre.

Die Auckland Ope het oor die jare ’n kwota jong talent help ontkiem, soos Naomi Osaka en Jelena Ostapenko. Anisimova is nou ook op die lys.

“Ek is baie in my noppies met my spel,” het sy agterna gesê.

“Barbora is ’n goeie speler en ek het ’n harde tweestryd verwag. Ek het geweet ek sou op my beste moes wees om ’n kans teen haar te staan.”

Volgens die tiener was sy veral tevrede met haar fokus, wat nooit in die kragmeting ’n insinking getoon het nie.

“Ek was daar vir elke punt. Ek wou nie een punt afstaan nie, want ek het geweet elke pot sal ’n wipplankstryd wees. Die bordjies kon enige oomblik in die wedstryd verhang word, so ek moes eenvoudig my fokus behou.

“Om teen spelers soos dié te speel, beteken baie vir my met betrekking tot ondervinding op die groot verhoog. Dit is opwindend elke keer as ek so ’n geleentheid kry.”

Die jong Amerikaner sal in Vrydag se kwarteindstryd teen Viktória Kuzmová van Slowakye te staan kom. Kuzmová het Donderdag die 20-jarige Sofia Kenin van Amerika met 7 – 5, 5 – 7, 6 – 3 uitgeskakel.

Eugenie Bouchard van Kanada pak die Duitser Julia Görges en Hsieh Su-Wei van Taipei sal die Spanjaard Sara Sorribes Tormo pak.

Die Amerikaanse veteraan Venus Williams is ook deur na die kwarteind nadat sy maklik met Lauren Davis afgereken het. Die telling was 6 – 4, 6 – 3.

Nóg ’n jongeling het die Deen Caroline Wozniacki laat struikel. Wozniacki het haar ergste nederlaag in ses jaar gely toe die 18-jarige Kanadees Bianca Andreescu haar in skoon stelle geklop het. Die telling was 6 – 4, 6 – 4. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.