Suid-Afrika se Kevin Anderson besin nog in watter tennistoernooie om te speel ná die Amerikaanse Ope en in aanloop tot die Franse Ope.

Kevin Anderson | Foto: Getty Images
Baie van die beroepspelers het hul lot bekla met al die toernooie wat so kort op mekaar gespeel gaan word met die hervatting van beroepstennis.
Anderson (34) is na die Covid-19-inperking slaggereed vir sy terugkeer tot die baan en sal binnekort sy program tot en met die Franse Ope finaliseer.
“Ek sien baie uit om weer te kan meeding, sê Anderson wat weens ’n tweede knieoperasie vroeg in Februarie in die New York Ope laas in aksie was. Die Covid-19-pandemie het kort daarna die spel tot stilstand gebring.
Die beroepsreeks hervat in Augustus met die Citi Ope in Washington.
Daarna volg die Western & Southern Ope wat na New York verskuif is, net voor die Amerikaanse Ope, wat op 30 Augustus daar begin. Die spelers skuif dan na Europa vir die uitgestelde kleibaanseisoen met drie opwarmtoernooie in aanloop tot die Franse Ope, wat op 21 September op Roland Garros begin.
“Ons begin in Washington en dan is daar die Amerikaanse Ope. Die kleibaanseisoen volg kort daarna, so ons gaan ’n paar weke agtereenvolgens in aksie wees.
Een van die positiewe dinge was net om tyd tuis te kon deurbring.
“Dit sal baie verg om in almal te speel. Ek sal met die finalisering van my program gaan kyk hoeveel toernooie sinvol is om tussen die Amerikaanse Ope en die Franse Ope te speel.”
Anderson sê hy het die laaste paar maande tuis in Delray Beach deurgebring.
“Ek het sowat tien weke gelede reeds begin oefen.
Die herstel van my operasie het baie goed verloop. Dis wonderlik om terug op die baan te wees.
“Een van die positiewe dinge was net om tyd tuis te kon deurbring. Dis altyd lekker om by die huis te kan wees en tyd saam met my gesin deur te bring. Ons dogter is nou nege maande oud.
“Dit het ons baie plesier verskaf, maar ek sien ook uit om terug op die baan te wees.”
Anderson se regterknie is op 19 Februarie geopereer nadat hy ook in September 2019 geopereer is.
Die knie het in Desember in ’n oefening weer gelol, waarna ’n skandering in Australië ’n skeurtjie getoon het.
• Die wêreld se voormalige nr. 5-speler het intussen tot 123ste op die wêreldranglys teruggesak.