Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Anderson hoop om voor Franse Ope te speel

Die Suid-Afrikaanse tennisveteraan Kevin Anderson gaan steeds probeer om in vanjaar se Franse Ope te speel.

Die 34-jarige Anderson het Vrydag ná die eerste stel van sy kwarteindstryd in die Estoril-Ope in Portugal teen Marin Cilic weens ’n besering die handdoek ingegooi.

Kevin Anderson Foto: Getty Images

Hy beplan egter om met die toernooi in Lyon, wat op 17 Mei begin, na die spel terug te keer.

As dit nie gebeur nie, sal hy eers weer in die kwalifiseringsrondes vir die Franse Ope op Roland Garros in Parys in aksie wees.

Anderson word die afgelope twee jaar deur beserings gery en beklee daarom tans slegs die 100ste plek op die wêreldranglys.

Vrydag was die Suid-Afrikaner se eerste kwarteindstryd in vyf maande. Die sesde gekeurde Cilic van Kroasië het die eerste stel met 7-6(9/7) gewen, waarna Anderson hom in kennis gestel het dat hy nie verder gaan speel nie.

Die Suid-Afrikaner het ongemak van ’n spier aan die binnekant van sy linkerbobeen ondervind.

Die jaarlikse skouspel op Roland Garros, die tweede Grand Slam-toernooi van die jaar, begin op 30 Mei.

Hoewel Anderson speeloppervlakke verkies waarop die bal vinnig deurskiet, het hy al vier keer die vierde ronde in die Franse Ope gehaal, waarvan die laaste keer in 2018 was.

• Suid-Afrika se Lloyd Harris sal Dinsdagaand in die tweede ronde van die Madrid-Ope teen Alex de Minaur speel.

Die wenner gaan straks teen die derde gekeurde Dominic Thiem van Oostenryk speel.

Carlos Alcaraz Foto: Getty Images

• Die belowende Spaanse tiener Carlos Alcaraz sê intussen sy wedstryd teen Rafael Nadal Woensdag in die tweede ronde in Madrid is nie net ’n droom wat waar geword het nie, dis ook die beste verjaardaggeskenk wat hy nog sal ontvang. Hy vier Woensdag sy 18de verjaardag.

Alcaraz het aan Tennis Channel gesê dit is oorweldigend om teen sy kleintydse held te kan speel.

“Om teen Rafa hier in Madrid voor ’n Spaanse skare te speel is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Ek sal baie van hom kan leer.

“Ek weet nie hoe om die gevoel te beskryf nie. Dis ’n droom wat waar geword het.

“Hulle sê altyd ’n 18de verjaardag is spesiaal, maar om teen een van die beste tennisspelers van alle tye – die beste, volgens my – te speel, gaan dit nog meer spesiaal maak.

“Rafa is een van my kinderhelde. Dit gaan baie spesiaal wees.”

Alcaraz het Adrian Mannarino van Frankryk oortuigend met 6-4, 6-0 in die eerste ronde geklop.

Danksy sy vinnige opgang word hy reeds met Nadal vergelyk.

Volgens atptour.com was hy ná sy sege as 17-jarige oor Mannarino die jongste speler wat ’n wedstryd in Madrid gewen het sedert Nadal dit in 2004 as ’n 18-jarige vermag het.

“Daar sal baie vergelykings wees. Ek is seker hulle sal oor my en Rafa praat en die nuwe generasie met die legende vergelyk.

“Ek sal my bes doen. Ek moet my spel speel, probeer om aan te hou verbeter en dit te geniet. Ek sal senuweeagtig wees, maar ek sal probeer om so ontspanne as moontlik te speel en my beste te lewer.”

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Tennis  |  Madrid-Ope  |  Lloyd Harris  |  Franse Ope  |  Estoril-Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.