Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Anderson nou in uitgelese geselskap

Kevin Anderson kon nie Sondag die enkelspeltitel op Wimbledon wen nie, maar is Maandag beloon met die nuus dat hy nou die vyfde plek op die wêreldranglys beklee.

Dít is ’n ongelooflike prestasie as in ag geneem word dat die 32-jarige Suid-Afrikaner voor 2018 slegs ’n enkele week van sy loopbaan in die top-10 was.

Serena Williams het danksy haar goeie vertoning op Wimbledon ’n reusesprong op die wêreldranglys gegee.Foto: AP

Dié langeraat beleef egter ’n droomjaar en sedert sy sege in die New York Ope in Februarie, het hy nou ’n permanente lid van die top-10 geword.

Anderson was voor die Wimbledon-toernooi, waar hy onder andere met Gaël Monfils, Roger Federer en John Isner afgereken het onderweg na die eindstryd, agtste op die ranglys.

Anderson kan nou ook daarmee spog dat hy die Suid-Afrikaner met die beste ranglysposisie in die moderne era is.

Kevin Curren, ’n gebore Durbaniet, was ook vyfde in 1985, maar het toe reeds Amerikaanse burgerskap aanvaar.

Kevin Anderson is nou nr. 5 op die wêreldranglys. Foto: AP

Johan Kriek, Suid-Afrika se laaste Grand Slam-wenner in die enkelspel, se hoogste ranglys-posisie was sewende in 1984. Hy was egter toe, nes Curren, ook reeds ’n genaturaliseerde Amerikaanse burger.

As Curren en Kriek buite rekening gelaat word, was Wayne Ferreira voor Anderson die Suid-Afrikaner met die hoogste ranglysposisie. Hy was in 1995 sesde.

Die veteraan-sportjoernalis Sy Lerman het vroeër vanjaar in ’n artikel op Sport24 daarop gewys dat Eric Sturgess en Cliff Drysdale in hul loopbaan albei die vierde plek op die ranglys beklee het. Dít was egter voor ’n amptelike wêreldranglys bestaan het.

Djokovic se vierde Wimbledon-kroon en 13de Grand Slam-titel het hom ook met 11 plekke op die ranglys van 21ste tot die 10de plek laat klim.

Hy het die afgelope twee jaar ’n kwaai stryd teen beserings gevoer, maar toon nou weer die spelpeil wat hom ’n paar jaar terug die houer van al vier Grand Slam-titels gemaak het.

Isner, die Amerikaner wat in die langste Wimbledon-halfeindstryd in die geskiedenis teen Anderson in aksie was, het ook twee plekke geklim tot in die agtste plek.

Novak Djokovic is weer herenig met die Wimbledon-trofee én is terug in die top-10 op die wêreldranglys.Foto: AP

Rafael Nadal (Spanje) is steeds nommer een, met Federer tweede en Alexander Zverev derde.

* Serena Williams (VSA) het danksy haar verskyning in die eindstryd ’n yslike 153 plekke op die wêreldranglys geklim. Sy beklee nou die 28ste plek.

Williams was voorheen die wêreld se nr. 1, maar was langer as ’n jaar buite aksie vanweë haar swangerskap en ná die geboorte van haar dogter.

Vanjaar se Wimbledon-kampioen, Angelique Kerber, het ses plekke geklim en is nou die wêreld se nr. 4.

Simona Halep is steeds die nr.1-speler ter wêreld. – Sportredaksie; atptour.com; wtatennis.com

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Wimbledon  |  Tennis  |  Serena Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.