Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Anderson reg vir hotkloue Doer Onder

Suid-Afrika se vyfde gekeurde Kevin Anderson het hom vandeesweek teen die heel beste hotklou op ’n tennisbaan, Rafael Nadal, vir die Australiese Ope voorberei.

Kevin Anderson in aksie in sy vertoonwedstryd in die Kooyong Classic in Melbourne. Foto: Getty Images

Die kans bestaan dat nie net sy eerste wedstryd teen die Fransman Adrian Mannarino nie, maar ook sy volgende twee, teen linkshandige spelers kan wees.

Mannarino, 41ste op die wêreldranglys, het twee van die agt kragmetings tussen hom en Anderson gewen, maar die Suid-Afrikaner was in die laaste drie baas.

Anderson kan in ’n moontlike tweede ronde teen Frances Tiafoe van Amerika of Indië se Prajnesh Gunneswaran te staan kom.

Die Indiër is links net soos Feliciano Lopez van Spanje, wat dalk in die derde ronde op Anderson wag.

Die einste Nadal, wat die Aussie Ope met bitter min wedstrydoefening ná ’n rits skete tegemoetstap, kan as hy ook staande bly, dalk in die kwarteindstryd met Anderson herontmoet.

Anderson het in sy tweede wedstryd van die seisoen in Abu Dhabi sy eerste sege nóg oor Nadal behaal.

Nadal het intussen ’n paar stelle in ’n Fast4-kragmeting in Sydney gespeel.

Anderson het in sy tweede wedstryd van die seisoen in Abu Dhabi sy eerste sege nóg oor Nadal behaal.

Anderson het vanjaar reeds agt wedstryde gespeel en het met die titel in die Maharashtra Ope in Indië weggestap.

Die feit dat hy daarna net een wedstryd in Australië – ’n vertoonwedstryd in die Kooyong Classic teen verlede jaar se Australiese Ope-finalis Marin Cilic gespeel het – bekommer Anderson nie te veel nie. Hy glo die wedstryd was genoegsaam om daar te akklimatiseer.

Ofskoon Anderson goed voorbereid is, sal hy te verstane dalk meer as die gewone vlinders in die maag vir sy eerste wedstryd hê.

Hy is verlede jaar in sy tiende Aussie Ope vir die sesde keer in die eerste ronde in Melbourne uitgeskakel. Die Brit Kyle Edmund het hom toe in vyf stelle huis toe gestuur.

* Lloyd Harris se kwalifisering Vrydag het meegebring dat daar vir die tweede agtereenvolgende Grand Slam-toernooi twee Suid-Afrikaners in die enkelspeltoernooi in aksie gaan wees.

Die 21-jarige Harris het sy plek in die hooftrekking bespreek toe hy Duitsland se Dustin Brown met 6-1, 7-6(12/10) in sy finale kwalifiseringstryd geklop het. Dit is Harris se tweede Grand Slam-verskyning, nadat hy verlede jaar in die eerste ronde van verlede jaar se Amerikaanse Ope vasgeval het.

Harris speel in sy eerste wedstryd teen die 15de gekeurde Daniil Medvedev van Rusland, wat vooraf die eindstryd in Brisbane teen Kei Nishikori gehaal het ná seges oor Jo-Wilfried Tsonga, Milos Raonic en Andy Murray.

* Suid-Afrika se Raven Klaasen en die Nieu-Seelander Michael Venus, die derde gekeurde dubbelspelpaar, speel Saterdag in die eindstryd van die Auckland Ope in Nieu-Seeland teen Ben McLachlan van Japan en Jan-Lennard Struff van Duitsland.

Dit is nadat hulle die tweede gekeurde Bryan-broers, Bob en Mike, Vrydag met 6-4, 6-1 geklop het.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Tennis  |  Aussie Ope  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.