Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Argentyn tem tam Thiem by Roland Garros

Dominic Thiem is een van die beste tennisspelers in die wêreld.

Maar ja, vanaand het ék verdien om te wen, het die Argentyn Diego Schwartzman Dinsdagaand gesê nadat hy vir ’n skok-oorwinning oor Thiem, die derde gekeurde in die Franse Ope en die naaswenner in 2018 en 2019, gesorg het.

Nadal, Djokovic, ek is ook hier! Diego Schwartzman van Argentinië bal Dinsdagaand sy vuis in sy kwarteindstryd van meer as vyf uur teen die Oostenryker Dominic Thiem in die Franse Ope. Foto: Reuters

Min tennisondersteuners het dié opskudding sien kom. Maar Schwartzman is een van die vasbyters in die mansreeks, wat nie laat los as hy eers die stang beet het nie.

Die 12de gekeurde het vir die eerste keer ooit die halfeindronde van ’n Grand Slam-toernooi gehaal nadat hy sy vorige drie kwarteindstryde verloor het.

Schwartzman kon nog nooit in ’n Grand Slam-toernooi ’n speler in die top-vyf klop nie.

Die telling was 7-6(7), 5-7, 6-7(8), 7-6(7) en 6-2.

En watter skitterstryd was dit nie in 5 uur 8 minute nie!

Schwartzman het ’n skitterdag vir Argentinië afgesluit nadat sy 23-jarige landgenoot Nadia Podoroska vir haar eie stukkie geskiedenis gesorg het deur Elina Svitolina, die derde gekeurde, in twee stelle uit te knikker.

Schwartzman kan gerus Woensdag ’n telefoonoproep na Hugo Gaston maak, want dié onbesonge Fransman het reeds Sondagaand begin om Thiem se aanslag stukkie vir stukkie af te breek.

Dominic Thiem
Einde van die pad?.?.?. Dominic Thiem bevind hom vir die eerste keer in vyf Grand Slam-toernooie nie in die laaste vier nie, ná hy ’n marathon-stryd van meer as vyf ure teen die Argentyn Diego Schwartzman verloor het. Foto: Getty Images

Thiem het in dié stryd in die vierde ronde reeds met sy vingerpunte aan ’n afgrond gehang en sy veldtog op Roland Garros het byna ontspoor.

Nadat hy ’n voorsprong van twee stelle in sy vierderonde-stryd teen Gaston geniet het, het Thiem eindelik 3 uur 32 minute nodig gehad om die oorwinning in vyf stelle te beklink.

Daardie kwaai uitdaging het dalk Dinsdagaand sy tol geëis.

Schwartzman het agterna gesê hy het nie sy kanse in die tweede en derde stel benut nie, maar daarna sake omgekeer.

Dié keer was hy beter as Thiem. En niemand kan daarmee stry nie.

Schwartzman het nou in die halfeindronde ’n afspraak met Rafael Nadal, die verdedigende kampioen, of die Italiaanse leeutemmer Jannik Sinner.

Hul kwarteindstryd was die laaste wedstryd geskeduleer vir Dinsdagaand op die Philippe Chatrier-baan.

Die marathon tussen Schwartzman en Thiem het egter die program deurmekaar gekrap en daar was twyfel of Nadal-hulle op die baan sou stap.

Die kwarteindstryd tussen Iga Swiatek en Martina Trevisan moes ook nog voor Nadal s’n afgehandel word. Hulle het eers voor 21:00 op die baan gestap.

Sou Nadal-hulle speel, sou dit die laatste wedstryd ooit op Roland Garros wees.

• Stefanos Tsitsipas, die vyfde gekeurde, het Woensdag ’n steil bult voor hom in die gedaante van die Rus Andrey Rublev, wat puik op dreef is.

Die Serwiër Novak Djokovic, die eerste gekeurde, behoort ’n makliker uitdaging te hê teen Pablo Carreno Busta van Spanje, die 17de gekeurde.

Nadal, Djokovic en Tsitsipas is nou die enigste oorblywende lede van die top-10.

Die mans se eindstryd word Sondag om 15:00 beslis.

• Djokovic het Maandag ’n ongewenste gevoel van déjà vu gehad, toe hy vir die tweede agtereenvolgende Grand Slam-toernooi ’n lynregter raakgeslaan het.

Djokovic, die eerste gekeurde, het in die agtste pot gestrek om ’n afslaan van Karen Khachanov terug te speel, toe die bal van sy raketraam weggeskiet en ’n manlike lynregter teen die kop getref het.

Die Serwiër het onmiddellik ’n gevoel van déjà vu beleef oor ’n voorval in die Amerikaanse Ope, toe ’n bal wat hy uit frustrasie na agter geslaan het, ’n lynregter teen die keel getref het.

Djokovic is toe gediskwalifiseer. Dié keer was hy egter nie skuldig nie, want die bal was in spel. Dit was nietemin steeds ’n benoude oomblik vir hom.

“Goeiste, dit was ’n vreemde gevoel van déjà vu,” het Djokovic ná sy oorwinning van 6-4, 6-3, 6-3 oor Khachanov gesê.

“Ek het die lynregter gesoek om te hoor of hy orraait is. Ek het gesien hy het ’n rooi swelling gehad waar die bal hom getref het.

“Hy het dit goed hanteer, hy was sterk en dapper. Maar dit was steeds ’n groot slag, want ek was naby aan hom.” – Sportredaksie

UITSLAE

Meer oor:  Tennis  |  Dominic Thiem  |  Franse Ope  |  Diego Schwartzman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.