Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kyrgios doen peiling ná Djokovic-drama
Nick Kyrgios maak geen geheim daarvan dat hy en Novak Djokovic nie om dieselfde vuur sit nie. Foto: Getty Imagesoo

Die omstrede Aussie-tennisspeler Nick Kyrgios het nie op hom laat wag om te reageer op Novak Djokovic se diskwalifikasie in die Amerikaanse Ope nie.

Djokovic, die wêreld se voorste speler, is Sondag op dramatiese wyse die deur gewys nadat hy per ongeluk ’n lynregter in die nek met ’n tennisbal geslaan het.

Kyrgios blyk die petalje verskriklik te geniet en het ’n peiling op Twitter saamgestel. “Ruil my met die jokers [Djokovic]-voorval. ‘Tref die baljoggie per ongeluk in die keel’, vir hoeveel jaar sou ek geskors word?” vra hy in die peiling en verskaf opsies van vyf, tien en 20 jaar.

Die peiling het binne tien uur byna 160 000 stemme ontvang, al verwar Kyrgios die lynregter met ’n baljoggie.

Die oorweldigende toernooi-gunsteling se breinfloute het gebeur toe hy kwaad gereageer het nadat Spanje se Pablo Carreno Busta die voortou met 6-5 in die eerste stel van hul vierderonde-kragmeting in New York geneem het.

Die 33-jarige Serwiër het die bal uit frustrasie geslaan sonder om te kyk wat hy doen. Die beampte het haar keel gegryp, op die grond rondgerol en geskree van pyn.

Kyrgios teiken Djokovic al maande lank in die sosiale media weens sy “onnoselheid” omdat hy ’n reeks vertoon-toernooie in Serwië en Kroasië aangebied het terwyl die Covid-19-pandemie wêreldwyd op sy piek was.

Die spelers by Djokovic se Adria-reeks het nie sosiale afstand toegepas nie en ná afloop van toernooie saam partytjie gehou.

Kyrgios het hulle vir hul optrede gekap en sy kritiek versterk nadat Djokovic en sy vrou, Jelena, positief vir Covid-19 getoets is.

Kyrgios, wat die Amerikaanse Ope uit vrese vir die koronavirus misloop, het Djokovic ook in April gekap toe die Serwiër gesê het hy weier om na mededingende tennis terug te keer indien ’n Covid-19-inenting verpligtend is. – Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Adria-Reeks  |  Tennis  |  Nick Kyrgios  |  Covid-19  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.