Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Aussie-rook maak spelers siek
Maria Sharapova haal moeilik asem tussen potte in haar vertoonwedstryd in Melbourne Dinsdag. Dié kragmeting is uiteindelik weens die rokerige lug afgelas. Foto: Getty Images

Australiese Ope-beamptes het Dinsdag onder kritiek deurgeloop nadat hulle kwalifiserende wedstryde vir die jaar se eerste Grand Slam-tennistoernooi laat voortgaan het, al het ’n dik rookwolk weens die verwoestende veldbrande in die suidooste van dié land oor Melbourne gehang.

In een van dié wedstryde het ’n verskriklike hoesbui, wat deur die rokerige lug veroorsaak is, die Sloween Dalila Jakupovic genoodsaak om die handdoek in te gooi.

Dit het ná sowat twee ure se spel in haar kragmeting met die Switser Stefanie Vögele gebeur.

Jakupovic het agterna gesê die toestande was nie geskik vir die wedstryde om voort te gaan nie.

“Dis onregverdig, want ons gesondheid is negatief deur die toestande geraak. Ek was verbaas dat ons aangesê is om te speel, maar ons het nie ’n keuse gehad nie. As ons geweier het om te speel, sou hulle ons miskien beboet het. Maar daar was tyd, hulle kon gewag het om te sien of die toestande môre beter is,” het Jakupovic luidens ’n berig op die Australiese webwerf news.com.au gesê.

“Dit was baie erg. Ek het nog nooit so iets ervaar nie en was bang dat ek sou omkap. Dis hoekom ek op die grond gaan sit het, want ek kon nie meer loop nie. Op die grond kon ek makliker asem kry.”

Jakupovic was nie die enigste speler wat gesukkel het in die rokerige toestande nie. Terwyl sy behandeling ontvang het, het die Kanadese speler Eugenie Bouchard ook ’n dokter na die baan ontbied.

“Ek het gesukkel om asem te haal en het naar begin voel,” het Bouchard agterna gesê.

Haar Chinese teenstander, Xiaodi You, het in die derde en beslissende stel net so swaar gekry en later selfs onderarm afgeslaan. Bouchard het uiteindelik met 4-6, 7-6, 6-1 gewen.

Later in die dag, tydens ’n kwalifiseerder tussen Jay Clarke en Blaz Kavcic, het ’n baljoggie inmekaargesak en moes hy ook behandeling ontvang.

Die wêreld se nr. 5-vrouespeler, Elina Svitolina, het op Twitter uitgevaar teen die beamptes en gevra of ’n tragedie eers moet plaasvind voordat iemand iets gaan doen.

Elders in Melbourne, by die Koogee Classic-vertoontoernooi, was beamptes ietwat meer simpatiek en is die kragmeting tussen Maria Sharapova en die Duitser Laura Siegemund diep in die tweede stel afgelas.

“Ek het teen die einde van die tweede stel begin voel asof ek wil hoes, maar ek was die laaste twee weke siekerig en het gedink dis seker die rede,” het Sharapova volgens espn.com.au gesê.

“Maar toe hoor ek Laura gaan praat ook met die skeidsregter en sê sy voel ook siekerig. Vanuit ’n gesondheidsoogpunt het die skeidsregter die regte besluit geneem.”

Siegemund was in daardie stadium met 7-6(4), 5-5 voor.

Die Australiese Ope begin Maandag in Melbourne en die toernooi-direkteur, Craig Tiley, het verlede week gesê beamptes en kenners sal deurgaans die luggehalte monitor en as dit ’n punt bereik waar dit nie meer veilig vir die spelers op die baan is nie, sal spel onderbreek word tot dit verbeter. – Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.