
Sam Stosur is ’n wenner van een Grand Slam-enkelspeltitel en ses Grand Slam-dubbelspeltitels. Foto: Getty Images
Sam Stosur, die Amerikaanse Ope-kampioen in 2011, het ’n ma geword.
ABCSport berig die 36-jarige Australiese tennisster het op Instagram aangekondig dat sy en haar lewensmaat, Liz, in Junie aan ’n babadogtertjie die lewe geskenk het.
“Die lewe in inperking tydens die koronavirus is uitdagend in baie opsigte, maar persoonlik is dit een van die opwindendste en gelukkigste tye van my lewe,” sê Stosur.
“Ek en my lewensmaat, Liz, het op 16 Junie die lewe geskenk aan ons pragtige babadogtertjie, Genevieve. Dit was ’n warrelwind-tyd, maar ons kan nou nie die lewe sonder haar indink nie.
“Ma en Evie is piekfyn en dit is so wonderlik om tuis saam met albei te wees. Ons is absoluut verlief op hierdie klein bondeltjie en vat die chaos soos dit kom.
“Ons kan nie wag vir wat voorlê nie en om te sien hoe klein Evie grootword nie... Hoewel nie te vinnig nie, hoop ons.”
Stosur het nege jaar gelede haar Grand Slam-enkelspeltitel gewen deur met niemand anders nie as Serena Williams in die eindstryd in New York af te reken. Sy het ook die eindstryd van die Franse Ope in 2010 gehaal en drie keer in die halfeindronde by Roland Garros verskyn.
In dubbelspel het sy al die boonste plek op die wêreldranglys beklee en ses Grand Slams verower, drie in die gemengde dubbelspel en drie in die dubbelspel vir vroue.
In enkelspel is haar beste plek op die ranglys nr. 4. Sy is tans 97ste nadat sy in die eerste rondes van die afgelope ses Grand Slam-toernooie verloor het.
Alle beroepstennis is sedert Maart weens die Covid-19-pandemie opgeskort, maar die mans se ATP-reeks en die vroue se WTA-reeks sal na verwagting in Augustus hervat.
Stosur het nog nie aangedui of sy gaan reis om in die Amerikaanse Ope mee te ding nie. Die toernooi in New York is geskeduleer om op 31 Augustus te begin, gevolg deur die Franse Ope in September. Wimbledon is afgelas.
– Sportredaksie