Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Aussies werk hard aan Slam in 2021

Terwyl die organiseerders van vandeesmaand se Amerikaanse Ope hik en stik om die uitdagings van die koronavirus-pandemie en onttrekkings van sterre te hanteer, word Doer Onder hard gewerk om soortgelyke probleme in die Australiese Ope te vermy.

Met vyf maande oor voor die Australiese Ope se “normale” tydgleuf, werk die organiseerders hard om te verseker dat hul toernooi ongehinderd kan voortgaan en dié trofeë soos gewoonlik oorhandig kan word. Foto: Getty Images

Craig Tiley, die Suid-Afrikaans gebore direkteur van die Australiese Grand Slam-toernooi, het reeds aangekondig dat aanstaande jaar se toernooi moontlik later as sy gewone tydgleuf in Januarie sal plaasvind.

Maar hy is vasbeslote dat dit steeds ’n skouspel sal wees, met toeskouers in die paviljoene en die volle prysgeld.

Melbourne is tans in die greep van nog ’n inperking, nadat ’n nuwe vlaag Covid-19-gevalle daar aangemeld is, maar Tiley-hulle se spoed word nie daardeur gebreek nie.

Hulle beplan om in Oktober te begin kaartjies verkoop en sal in die ses weke voor die toernooi vyf bio-borrels oor die land heen oprig om spelers in kwarantyn te hou.

“Ons hoop om bio-borrels op 1 Desember op te rig en die spelers kan enige tyd daarna kom,” het Tiley aan Reuters gesê.

“Wanneer die spelers hier land, is ons verwagting dat hulle nie, soos tans vereis word, vir 14 dae in ’n hotel onder kwarantyn sal wees nie, maar eerder binne hierdie bio-borrels.

“Ons sê elke jaar ons is die happy slam. Nou sê ons ons is die ‘baie veilige én happy slam.’ ”

Die bio-borrels sal in Perth, Brisbane, Sydney, Adelaide en Melbourne wees.

Die Australiese Ope is in die bevoorregte posisie dat hy reeds vroeg vanjaar ’n krisisbestuurspan saamgestel het. Dít is weliswaar genoodsaak deur ’n ander krisis – die bosbrande wat Australië in Januarie in chaos gedompel het – maar is nou gevestig en gereed om sake- en bedryfsplanne op te stel vir enige scenario wat die pandemie noodsaak.

Tiley sê die eerste scenario waarvoor hulle beplan, is om die toernooi nes in 2020 aan te bied, terwyl die tweede ’n toernooi met beperkte skares is.

“Scenario drie is ’n toernooi agter geslote deure, met net uitsaaiers daar. Scenario vier is ’n ander tyd van die jaar en scenario vyf geen Australiese Ope nie,” sê hy.

Scenario vyf is nie een wat Tiley tans voorspel nie. Hy het volle vertroue dat Melbourne Park nagenoeg 400 000 toeskouers sal kan verwelkom vir 2021 se toernooi. Dis rondom die helfte van die getal mense wat vanjaar se ope bygewoon het.

Aangesien die Melbourne-kompleks ’n gebied van sowat 2,5 kilometer beslaan, kan gesonde afstande effektief gehandhaaf word. Die dra van maskers sal ook verpligtend wees.

“Ons het reeds ’n strategie en bedryfsplan vir hoe toeskouers in die kompleks geposisioneer sal word,” sê Tiley.

Die toernooi-direkteur het ook beklemtoon dat hy en sy medeorganiseerders die insette van die ATP- en WTA-reekse sal aanvra as hulle wel gedwing word om die toernooi te herskeduleer.

Dít is in kontras met die organiseerders van die Franse Ope, wat hul toernooi van Mei tot die einde van September geskuif het sonder om enigiemand anders te raadpleeg.

Sou die Australiese Ope wel geskuif moet word, hoop die organiseerders om dit in Maart en April of in September en Oktober aan te bied.

Die Australiese wintermaande van Mei tot Augustus is buite die kwessie.

Die Aussie Ope is die enigste van tennis se Grand Slam-toernooie wat tot dusver vanjaar kon plaasvind. Wimbledon is heeltemal gekanselleer vir 2020, terwyl die Amerikaanse Ope na die einde van vandeesmaand en die Franse Ope na September geskuif is.

Onder die spelers wat reeds aangedui het dat hulle nie in New York sal speel nie, is die verdedigende manskampioen, Rafael Nadal, die wêreld se voorste vrouespeler, Ashleigh Barty, en die Switsers Roger Federer en Stan Wawrinka.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.