Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Basta met respek vir ‘Groot 3’

Andre Agassi meen die volgende generasie tennisspelers kan nie langer in verwondering van Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic staan nie.

Andre Agassi en sy vrou, Steffi Graf. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse legende glo die nuwe generasie is op pad om by die sport se “Groot 3” – Federer, Nadal en Djokovic – oor te neem en moet alles in die stryd werp om die kruin te bereik. Dit sluit in om weg te doen met hul groot respek vir die Groot 3.

“Die volgende generasie is op pad,” sê Agassi in ’n onderhoud op die YouTube-kanaal BeerBiceps.

“Jy sien hulle met (Stefanos) Tsitsipas wat in Monte Carlo geseëvier het, jy kyk hoe (Daniil) Medvedev druk om bo uit te kom en goeie vertonings in die Grand Slams lewer.

“Jy kyk na (Alexander) Zverev en (Dominic) Thiem. Ek bedoel, ek dink hierdie ouens begin besef hulle kan nie meer bekostig om soveel respek vir die Groot 3 te hê soos voorheen nie.”

Andre Agassi het op 16-jarige ouderdom ’n beroepspeler geword. Foto: Getty Images

Tsitsipas het onlangs sy eerste Meesters 1000-titel in Monte Carlo verower terwyl Zverev en Medvedev albei reeds ’n paar Meesters-titels gewen het. Thiem is ’n Grand Slam-kampioen danksy sy oorwinning in die Amerikaanse Ope in 2020.

“Hulle moet begin eienaarskap neem en vir die volgende vlak mik. Dit is ’n taai taak, ek weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar ek glo ons is in die proses om te sien dat een van hulle die Groot 3 sal onttroon,” sê Agassi.

Hy is ook gepols oor wat dit sielkundig verg om die kruin te haal.

“Jy moet glo. Ek sal jou ’n voorbeeld gee.

“Ek het op 16-jarige ouderdom ’n beroepspeler geword en ek het binne twee jaar as ’n 18-jarige die topdrie op die wêreldranglys gehaal. Maar ek het nie ’n Grand Slam verower totdat ek 22 was nie.

“(Jim) Courier, (Pete) Sampras en (Michael) Chang het, omdat hulle gesien het ek het die topdrie gehaal, eenvoudig deurgestorm en ’n Grand Slam-titel voor my gewen. Hulle het dit vermag al het dit voorgekom of hulle jare agter my was in die evolusie van ons loopbane.

“Sodra iemand bewys dit is nie onmoontlik nie, dat jy dit werklik kan vermag en mense begin dit glo, dan sal jy ’n stoomlokomotief in daardie rigting sien beweeg.

“Maar jy moet glo.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Andre Agassi  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.