
Boris Becker / Foto: Getty Images
Drie voormalige Grand Slam-tenniskampioene sal hul onderskeie lande se kapteins wees in aanstaande jaar se splinternuwe spantoernooi om die ATP-beker in Australië.
Boris Becker (51), ’n sesmalige Grand Slam-wenner, sal Duitsland se leisels neem, Marat Safin (39) sal aan die stuur van Rusland wees en Thomas Muster (52) is as Oostenryk se kaptein aangewys.
Al drie dié spelers was in hul fleur nommer een op die wêreldranglys.
Alexander Zverev, tans Duitsland se voorste man op die wêreldranglys (nr. 7), het Becker as sy span se kaptein gekies.

Marat Safin / Foto: Getty Images
Die Duitsers is in Groep F geloot, waar hulle sake teen Australië, Griekeland en Kanada sal uitspook.
Altesaam 24 spanne neem van 3 tot 12 Januarie aan dié toernooi in Brisbane, Perth en Melbourne deel.
Volgens Becker gaan die feit dat die wêreld se heel beste spelers in aksie gaan wees daarvoor sorg dat tennis van ’n hoë gehalte opgedis word. “Om teen die heel bestes te speel en jou land in die proses te verteenwoordig, spoor jou tot hoër hoogtes aan,” het Becker gesê.
Safin, wenner van die Amerikaanse Ope in 2000 en Australiese Ope in 2005, het Daniil Medvedev (die wêreld se nr. 4) en Karen Khachanov (nr. 17) tot sy beskikking. “Met dié spelers het ons ’n realistiese kans om die toernooi te wen. Ek sal my bes doen van die kantlyn af om dít moontlik te maak,” het Safin gesê.

Thomas Muster / Foto: Getty Images
Muster, wat in 1996 die wêreld se nr. 1 was en die jaar voor dít die Franse Ope gewen het, was Dominic Thiem (nr. 5) se keuse as kaptein.
Volgens Muster gaan dit lekker wees om weer met van sy ou “vyande” swaarde te kruis.
Die wenners van die ses groepe en die twee beste naaswenners sal vir die uitkloprondes van die toernooi kwalifiseer. Dié kragmetings sal in Sydney beslis word.
– Reuters