Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Becker sê jong spelers is ‘sag in die kop’

Boris Becker sê jonger beroepspelers beskik nie oor die regte geestelike ingesteldheid om die “Groot Drie”, Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic, in Grand Slam-tennistoernooie uit te daag nie.

Dominic Thiem is die enigste aktiewe beroepspeler onder die ouderdom van 28 jaar wat al in ’n Grand Slam-eindstryd gespeel het. Foto: Getty Images

Dié trio het sedert 2017 elke Grand Slam-toernooi tussen hulle gewen. Die 33-jarige Nadal het hul heerskappy Sondag in die eindstryd van die Franse Ope onderstreep met ’n klinkende oorwinning oor die 25-jarige Dominic Thiem.

Dit was die tweede agtereenvolgende jaar wat hy Thiem in die eindstryd getroef het.

Becker, wat Wimbledon op 17-jarige ouderdom gewen en uiteindelik ses Grand Slam-titels in sy loopbaan verower het, sê dis die sielkundige aspek van die spel wat Nadal, Federer (37) en Djokovic (32) meer as enigiets anders van die res onderskei.

“Ek het pas ’n statistiek gelees dat geen aktiewe (manlike) speler onder die ouderdom van 28 jaar, met die uitsondering van Thiem, al in ’n Grand Slam-eindstryd gespeel het nie.

“Dis gewis nie ’n kompliment vir enigiemand onder 28 nie. Ons moet die gehalte en ingesteldheid van alle spelers onder 28 bevraagteken. Dit maak net nie sin nie,” het Becker, wat die spel vir Eurosport ontleed, gesê.

Buiten die Groot Drie, was Juan Martin del Potro, Kevin Anderson, Marin Cilic en Stan Wawrinka die ander mans wat die afgelope drie jaar Grand Slam-eindstryde gehaal het. Elkeen van hulle is 30 jaar of ouer.

Baie kenners meen die 20-jarige Stefanos Tsitsipas kan die eerste van die jong Turke word om ’n Grand Slam-titel te wen. Foto: Getty Images

“Soveel as wat ek Roger, Rafa en Novak respekteer, is dit tyd dat jong spelers hul stempel begin afdruk,” sê Becker.

“Hulle gaan uiteindelik ook oud word, maar jy wil sien dat hulle die fakkel oorneem terwyl hulle nog in hul fleur is.

“Dis nie hul voorarmhoue of hul fiksheid nie. Dis die (Groot Drie se) ingesteldheid wat die verskil tussen wen en verloor beteken.”

Die jong Turke se volgende kans om die status quo te verander, is by Wimbledon, wat op 1 Julie begin. 

– Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Boris Becker  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.