Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Becker soek sy trofeë om skuld te delg
Boris Becker, ’n voormalige Australiese Ope-kampioen, poseer met die Norman Brookes-uitdaagbeker op die eerste dag van vanjaar se Australiese Ope. Foto: Getty Images

Vyf van Boris Becker se ses Grand Slam-tennistrofeë is soek en hy het die publiek gevra om hom te help om dit op te spoor.

Die 50-jarige Duitser wil die trofeë verkoop om sy skuld te help delg nadat hy in 2017 bankrot verklaar is.

Twee van sy Australiese Ope-trofeë en drie van Wimbledon is weg en ’n Olimpiese goue medalje is ook verplaas.

“Mnr. Becker kan nie onthou waar die trofeë is nie,” lui ’n gesamentlike verklaring van Becker en sy Londense bankrotskaptrustees.

Die All England-tennisklub, die Duitse Tennisfederasie, die Amerikaanse Tennisvereniging en die Internasionale Heldesaal van Tennis sê hulle het nie die trofeë nie.

’n Londense bankrotskaphof het in Junie verlede jaar bevind dat Becker ’n firma van privaat bankiers ’n groot som geld skuld en daar was nie genoeg geloofwaardige bewyse dat hy hulle kan terugbetaal nie.

“Ons probeer om mnr. Becker se Australiese Ope- en Wimbledon-trofeë op te spoor om die volgende drie jaar se betalingsooreenkomste af te handel, en om ons ondersoeke na ander moontlike verhalings, insluitend eiendom in Engeland en oorsee voort te sit,” sê Mark Ford van Smith & Williamson LLP.

Becker, ’n voormalige nommereenspeler ter wêreld, het die eerste keer opslae gemaak toe hy in 1985 as ’n onbekende en ongekeurde 17-jarige Wimbledon gewen het.

In sy 15 jaar as beroepspeler het hy 64 beroepstitels gewen, insluitend drie Wimbledon-enkelspeltitels, twee Australiese Ope-titels en die Amerikaanse Ope.

Hy het ook twee Davisbeker-titels en ’n Olimpiese goue medalje in die mansdubbelspel gewen.

Sedert sy uittrede het Becker in die sakewêreld en media gewerk en was hy van 2013 af vir drie jaar Novak Djokovic se afrigter. – BBCSport

Meer oor:  Boris Becker  |  Bankrot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.