Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Bewerige Thiem stuur Novak huis toe

Die Serwiër Novak Djokovic het in die eerste 11 maande van vanjaar net drie keer as verloorder van die baan gestap (en een keer daarvan omdat hy gediskwalifiseer is). Nou het hy twee keer in een week op sy baadjie gekry – al was die man aan die ander kant van die net op die meeste groot punte ’n senuweewrak.

Dominic Thiem bal sy vuiste nadat hy Saterdag in die halfeindronde van die ATP-jaareindtoernooi ’n swaarverdiende sege oor Novak Djokovic behaal het. Foto: AP

Dominic Thiem bevind hom in die eindstryd van die ATP-reeks se jaareindtoernooi nadat hy Djokovic Saterdag in ’n klipharde halfeindstryd met 7-5, 6-7(10/12), 7-6(7/5) verslaan het.

Die wedstryd het twee uur en 54 minute geduur en Thiem vyf wedstrydpunte sien verspeel voordat hy uiteindelik die wêreld se voorste speler kon klop. Die Oostenryker was die beter speler, met meer skouspelagtige houe wat van sy kant van die net gekom het as van Djokovic s’n, maar hy het ook ’n paar keer in sy eie pad gaan staan.

Uiteindelik het vyf minute van sielkundige staal, reg aan die einde van die wedstryd, hom oor die wenstreep gekry.

Thiem, die heersende Amerikaanse Ope-kampioen, het die eerste stel ingepalm nadat Djokovic in die 11de pot kleigetrap en die deur op ’n skrefie vir sy jonger teenstander oopgemaak het. In die tweede stel het albei spelers hul afslaanpotte goed beskerm om ’n valbylpot af te dwing, en daarin het Thiem meer gereeld die moeilike vrae gevra as sy ervare teenstander.

Die jonger man het vier wedstrydpunte bewerkstellig deur Djokovic met veral giftige handrughoue te peper – maar met die uitsondering van een het sy bewerasies hom die volgende punt gekos.

Natuurlik het Djokovic dit gesien en bloed geruik. Die Serwiër het self net een kans nodig gehad om die stel te beklink en die wedstryd lewend te hou.

Die derde stel het weer vasbyt soos min van albei spelers opgelewer, maar in die valbylpot was dit ’n ander storie.

Thiem het weer met lam bene aangetree en was in ’n japtrap met 0-4 agter. Al die sweet en wonderhoue van die vorige byna drie ure het pure verniet gelyk terwyl Djokovic die tellinghouers op sy eie gepla het.

Maar van iewers het ’n stemmetjie in Thiem se kop skynbaar op hom begin gil. Só, het daardie stemmetjie seker gesê, verloor ’n man nie.

Thiem het geluister, en al ses die volgende punte gewen. Die venyn was terug in sy handrug en die spoed terug in sy bene. Sy vyfde wedstrydpunt van die wedstryd was op Djokovic se afslaan, en is deur die Serwiër gewen, maar op die punt daarna het Thiem die ouer man terug op die agtervoet gedwing. Die wedstryd is beklink toe Djokovic die bal oor die agterlyn slaan.

“Dit was beslis ’n groot sielkundige stryd,” het Thiem agterna in sy TV-onderhoud te kenne gegee. “Ek was heeltemal opgewen in die tweede stel se valbylstryd, want nie net is dit altyd spesiaal om teen die legendes te speel nie, maar ’n plek in die eindstryd hier is ook spesiaal.

“Ná (sy Amerikaanse Ope-triomf in) New York het ek gedink ek sal kan kalmer bly, maar dit is nie die geval nie. Ek moes baie hard werk om die eindstryd te haal, en nou moet ek alles doen wat ek kan om gereed te wees daarvoor.”

Thiem sal te staan kom teen die wenner van die ander halfeindstryd tussen Daniil Medvedev en Rafael Nadal, wat eers laat Saterdagnag plaasvind.

Ongeag wie die wedstryd wen is dit reeds gewaarborg dat die wenner van die eindstryd vir die eerste keer sy hande om die trofee sal vou, aangesien nie Thiem, Medvedev of Nadal al die jaareindtitel kon wen nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.