Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Murray breëbors ná titelsukses

Gewoonlik, in die cliché-besaaide wêreld van die sportjoernalistiek, word baie gesê oor die staal tussen ’n sportman se ore wat die dag vir hom gered het.

Andy Murray se vreugde ken geen perke nie nadat hy en die Spanjaard Feliciano Lopez Sondag Queen’s se dubbelspeltitel gewen het.Foto: Reuters

Die Andy Murray-verhaal noodsaak egter ’n variasie daarop. Dis immers ’n stuk metaal in sy heup wat besig is om sy loopbaan te red.

Die Brit was Sondag bonsend en breëbors nadat hy vir die eerste keer in 28 maande ’n trofee in sy hande vasgehou het. Vir die oningeligte is dit niks vergeleke met sy drie Grand Slam-titels of twee Olimpiese goue medaljes nie, maar vir Murray was dit Sondag rede tot gróót feesviering toe hy Queen’s se dubbelspeltitel saam met die Spanjaard Feliciano Lopez gewen het.

Hulle het met 7-6(6), 5-7, 10-5 gewen teen die Brit Joe Salisbury en Amerikaner Rajeev Ram – vier maande ná die heupoperasie wat Murray van maande se pyn verlos het.

“Kyk, hierdie is baie anders vir my, en meer spesiaal as baie van die enkelspel-toernooie wat ek gewen het, om baie verskillende redes,” het Murray volgens Reuters gesê.

“Ek het so pas die dubbelstitel saam met Feli gewen, met ’n metaalheup. Dis waansinnig, eintlik. Dis ook ’n baie cool ding om te vermag het as jy dink waar ek ’n paar maande gelede was – so onlangs as twee maande gelede.

“Ek het nie hieraan gedink nie, ek was net te bly om sonder pyn te wees en die lewe te geniet, om letterlik normale dinge te doen. (Om te wen) is regtig spesiaal.”

Murray het in Januarie by die Australiese Ope afskeid geneem van dié Grand Slam-toernooi, en tranerig gesê sy heupprobleme laat die gordyn veel vroeër oor sy loopbaan sak as wat hy sou verkies. Die operasie wat hy in Februarie gehad het, het dus sy eie en almal om hom se verwagtinge oortref.

Vir nou is die Brit se aandag gevestig op dubbelspel-tennis. Hy is vandeesweek saam met Marcelo Melo in aksie in die mansdubbelspel-kompetisie en sal by Wimbledon saam met die Fransman Pierre-Hugues Herbert speel.

Met enkelspel-tennis by Wimbledon (waar hy natuurlik ’n tweemalige kampioen is) van die baan, is hy gevra of hy by die jaar se laaste Grand Slam-toernooi, die Amerikaanse Ope, op sy eie sal speel.

“Moontlik, ja,” het hy geantwoord. “Maar ek gee nie regtig om nie. Dit sal lekker wees om by die Amerikaanse Ope te speel, maar ek het soveel vreugde geput uit ’n oorwinning in ’n eersteronde-dubbelswedstryd hier . . . jy weet, dis genoeg.

“Ek hoef nie vanjaar by die Amerikaanse Ope uit te kom en mededingend te wees en te wen om dit te geniet nie. Ek sal teen my eie tempo vorder en hopelik vooruitgaan. Ek het steeds ’n paar dinge om te verbeter, fisieke dinge.”

Meer oor:  Wimbledon  |  Queens-Toernooi  |  Andy Murray
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.