Boris Becker voel die voorste jong tennisspelers ter wêreld moet ophou om agter Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic te skuil en te wys hulle is goed genoeg om van die groot toernooie wêreldwyd te wen.

Boris Becker sê die volgende geslag tennisspelers moet harder probeer om die ‘Groot Drie’ se houvas op Grand Slam-toernooie te verbreek. Foto: Getty Images
Hierdie drie grotes het tussen hulle 56 Grand Slams verower, terwyl hulle die laaste 13 Grand Slams tussen hulle ingepalm het, met Djokovic en Nadal wat vyf elk gewen het en Federer drie.
Van die jong spelers het in die laaste paar jare wel hul opwagting gemaak met Dominic Thiem, wat byvoorbeeld drie Grand Slam-eindstryde gehaal het, terwyl Nadal verlede jaar ná vyf stelle in die Amerikaanse Ope-eindstryd met Daniil Medvedev klaargespeel het.
Tog duur die wag vir ’n nuwe Grand Slam-wenner voort en Becker, ’n voormalige nommer een ter wêreld, glo die sogenaamde volgende geslag gebruik die “Groot Drie” as ’n verskoning.
“Ek wil sien dat die jonger geslag die leisels oorneem, maar dit is ’n proses. Dominic Thiem het darem vir Djokovic in vanjaar se Australiese Ope ná vyf stelle geneem,” sê hy.
“Daar is ’n paar baie talentvolle spelers, maar die voorste drie is steeds goed. Dit is maklik om agter Federer, Nadal en Djokovic te skuil omdat hulle so goed is en jy weet niemand gaan jou verkwalik as jy teen hulle verloor nie. Dit is altyd ’n handige verskoning.”
Becker sê dit is hoog tyd dat iemand vir die jonger spelers sê hulle moet van die Grand Slams begin wen omdat hulle goed genoeg is.
“Dit begin egter alles met die regte ingesteldheid en die regte houding.” – TeamTalk