Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Boris glimlag ná veggees Duitsland red

Die vreugdevure het Sondag hoog gebrand in die kamp van Duitsland se tennisspan, ná ’n kanniedood-benadering soos min hom by die ATP-bekertoernooi in Brisbane oor ’n ewe vasberade Griekeland laat seëvier het.

Kaptein Boris Becker en sy span was uit hul velle van vreugde nadat Andreas Mies en Kevin Krawietz ses wedstrydpunte in die valbyl-stel van die dubbelspel-wedstryd oorkom het om die wedstryd – en die kragmeting – te wen.

Andreas Mies en Kevin Krawietz ná Duitsland se sege. Foto: Getty

Mies-hulle was vroeg in die valbyl-stel met 0-5 agter, maar het geweier om te gaan lê en eindelik met 3-6, 6-3, 17-15 koning gekraai oor Stefanos Tsitsipas en Michail Pervolarakis.

“Ek is baie trots op hoe ons teruggekom het en hoe hard ons baklei het,” het ’n emosionele Mies volgens die ATP-webtuiste gesê.

“Boris het in ons geglo, die hele span was agter ons. Dis waarvoor jy oefen, om in die posisie te wees en ’n wedstryd soos dié te wen.”

Becker was agterna vol lof vir Mies en Krawietz.

“ ’n Groot kompliment vir my spelers, hulle het hul senuwees onder beheer gehou.

“Baie ander spanne sou opgegee het, maar hulle het kalm gebly, aanhou veg en aanhou glo.”

Die Duitsers is Vrydag met 3-0 deur Australië afgeransel, maar het uiteindelik lig in die tonnel gesien toe Jan-Lennard Struff in Sondagoggend se eerste enkelspelwedstryd met 6-4, 6-1 oor Pervolarakis gerol het.

Die tweede enkelspelstryd – tussen Tsitsipas en Alexander Zverev – was daarna vol vuurwerk, in meer as een opsig.

Die 21-jarige Tsitsipas, wat verlede jaar die jongste wenner van die ATP-jaareindtoernooi in 18 jaar was, het uit die staanspoor die oorhand oor Zverev gehad en hom met 6-1, 6-4 geslag.

Ná die eerste stel het ’n woedende Zverev na sy stoel gestorm en begin skel op sy pa, Alexander, wat langs die baan was en ook sy persoonlike afrigter is.

In die Duitse kamp sal daar kommer wees oor Zverev, wat in sy eerste twee wedstryde van die jaar 24 dubbelfoute (10 teen Tsitsipas en 14 teen Alex de Minaur) gemaak het en glad nie gemaklik lyk nie.

Waar Duitsland weer mag droom van bekersukses, is dit vir Griekeland neusie verby.

* Soos die Duitsers was Brittanje in Sydney ook onder druk om hul uitspeeldroom met ’n dubbelspel-oorwinning lewendig te hou, toe hulle Sondag teen België te staan gekom het.

Die Britte is Vrydag met 2-1 deur Bulgarye geklop, en moes albei die laaste wedstryde van hul kragmeting met die Belge wen ná hul nr. 2-speler, Cameron Norrie, deur Steve Darcis verslaan is.

Die Engelsman Dan Evans is boonop nie veel van ’n wenkans gegun teen David Goffin (die wêreld se nr. 11-speler) nie.

Aan Goffin se reuse-reputasie het Evans hom nietemin nie gesteur nie, en in skoon stelle met 6-3, 7-6(9) koning gekraai.

Dit het die meermalige Grand Slam-kampioen Jamie Murray en sy dubbelspelmaat, Joe Salisbury, iets gegee om voor te speel – en hulle het nie teleurgestel nie. Hulle was met 6-3, 7-6(7) te sterk vir Sander Gille en Joran Vliegen.

* Die ATP-beker se ses groepwenners, asook die twee beste groep-naaswenners, kwalifiseer vir die groepwedstryde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.