Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Byt vas tot Wimbledon, Andy Murray’

Die voormalige tennisster Andy Roddick hoop Andy Murray se swanesang as beroepspeler sal eers later vanjaar op Wimbledon wees.

’n Emosionele Andy Murray Vrydag toe hy sy uittrede vanjaar as beroepspeler aankondig. Foto: AP

Roddick het gereageer op Murray se skok-aankondiging dat hy weens knaende pyn in sy regterheup vanjaar gaan uittree en dat die Australiese Ope, wat Maandag in Melbourne begin, moontlik sy laaste toernooi as beroepspeler kan wees.

“As dit waar is (dat hy gaan uittree), wil ek my hoed afhaal vir Andy Murray. Hy is ’n legende. Hy’s op die kortlys van die beste taktiese spelers in die spel se geskiedenis.

“Ek het niks anders as respek vir hom nie. Ek dink nou sommer hardop, maar hy verdien sy oomblik om by Wimbledon totsiens te sê. Hy is te belangrik vir Brittanje en Wimbledon-geskiedenis om nie só ’n kans te kry nie,” het Roddick op Twitter gesê.

Murray het twee keer die Wimbledon-kroon in sy loopbaan verower en ook ’n Olimpiese goue medalje op dieselfde grasbane in 2012 gewen.

Andy Murray, hier in aksie in ’n oefenwedstryd vir die Australiese Ope, sê die pyn in sy regterheup is ondraaglik. Foto: Getty Images

Een van Murray se voormalige afrigters, Darren Cahill, het ook groot lof vir dié Skot gehad. “As jy soek vir voorbeelde van spelers wat alles uitgehaal het om die beste te wees, behoort daar ’n foto van Andy Murray te wees,” het hy gesê.

“Sy dissipline wanneer dit by oefening kom, sy wedywering en die opofferings wat hy bereid was om te maak, is legendaries.”

In reaksie op wat Cahill gesê het, het ’n ander oud-breier van Murray, Daniel Vallverdu, selfs verder gegaan: “Wat ook al jy dink dit beteken om alles in te sit, maal dit met vyf en dan weet jy wie Andy Murray is.”

’n Emosionele Murray (31), wat benewens sy Wimbledon-titels ook die Amerikaanse Ope een keer gewen het, het Vrydag gesê daar is wel nog ’n kans dat hy minstens tot en met vanjaar se Wimbledon sal meeding.

Maar soos hy tans voel, sal die Aussie Ope dalk sy swanesang wees omdat die pyn in sy heup byna ondraaglik geraak het.

“Die pyn is regtig te veel. Ek is nie seker ek sal vir nog vier of vyf maande met die pyn kan speel nie. Die pyn laat my nie toe om my tennis te geniet nie, om mee te ding of te oefen, niks nie.”

Andy Murray met sy eerste Wimbledon-trofee nadat hy Novak Djokovic in 2013 verslaan het. Die voormalige tennisster Andy Roddick sê hy hoop Murray se swanesang sal eers op vanjaar se Wimbledon-toernooi wees. Foto: Getty Images

Murray sê hy oorweeg verdere heupoperasies, maar gee toe dat dit meer daarop gemik sal wees om sy “lewensgehalte” te verbeter as om uiteindelik na sy tennisloopbaan terug te keer.

Hy is ’n voormalige nommereen-speler van die wêreld, maar het weens sy heupprobleem tot in die 230ste plek op die wêreldranglys uitgesak.

Hy het sy debuut as beroepspeler in 2005 gemaak en het sedertdien 45 toernooie in die ATP-reeks gewen.

Sy laaste titel was in Dubai in Maart 2017.

Hy was die jaar voor dit ook die Olimpiese Spele-kampioen in Rio de Janeiro.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Andy Murray  |  Melbourne  |  Andy Roddick
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.