Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Carreno Busta mik na tweede titel

Die Spaanse tennisspeler Pablo Carreno Busta se veldtog is op koers om sy tweede titel van die seisoen te wen.

Hy het Saterdag vir Federico Delbonis van Argentinië met 7-6(2), 6-3 geklop om die eindstryd van die Hamburg-Ope te haal.

Carreno Busta het al vier breekpunte teen hom oorkom en 75% van die punte op sy tweede afslaan gewen. Die wedstryd het 1 uur 55 minute geduur.

Carreno Busta het nog nie ’n stel in die toernooi afgestaan nie.

Hy sal Sondag in die eindstryd teen Filip Krajinovic te staan kom.

Die Serwiër was bobaas in sy halfeindstryd teen sy landgenoot Laslo Djere, met 6-4, 6-2.

Filip Krajinovic van Serwië het Saterdag die eindstryd van die Hamburg-Ope gehaal. Foto: Reuters

Krajinovic het Vrydag in die kwarteindronde met Stefanos Tsitsipas afgereken.

Carreno Busta was tevrede met sy vertoning, in wat hy ’n taai wedstryd genoem het.

“Federico is ’n moeilike teenstander. Ek is altyd ongemaklik as ek teen hom speel. My spelpeil was baie hoog,” sê Carreno Busta.

“Sondag is my belangrikste wedstryd van die jaar. Ek sal enduit gefokus moet bly.”

Die Spanjaard het in April die Marbella-Ope gewen.

Krajinovic mik na sy eerste titel in die beroepsreeks. Die 29-jarige Serwiër het voorheen die eindstryde van die Paryse Meesterstoernooi (2017), die Hongaarse Ope en die Stockholm-Ope gehaal (albei in 2019).

• In Bastad, Swede, het die Noorweër Casper Ruud, die eerste gekeurde, die eindstryd gehaal deur Spanje se Roberto Carballés Baena met 6-1, 6-4 te klop.

Sy teenstander in die eindstryd is die Argentyn Federico Coria, wat Yannick Hanfmann van Duitsland in sy halfeindstryd met 6-2, 6-1 geklop het.

• In Newport, Rhode Island, sal Suid-Afrika se Kevin Anderson in die halfeindronde teen Alexander Bublik te staan kom.

Bublik, van Kazakstan, is die eerste gekeurde.

Jordan Thompson van Australië en die Amerikaner Jenson Brooksby is die paar in die tweede halfeindstryd.

• TV: Hamburg-eindstryd Sondag 13:30 (SS 214). – Atptour.com

Meer oor:  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.