Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Clarke kry moeilike tennistaak
Roxanne Clarke, nuwe afrigter van die Suid-Afrikaanse vrouetennisspan. Foto: Verskaf

Roxanne Clarke is met die moeilike taak opgesaal om Suid-Afrikaanse tennisvroue weer ’n faktor in die sport se belangrikste internasionale spankompetisie te maak.

Clarke (35) sal vir die volgende vier jaar verantwoordelik wees vir die vertonings van Suid-Afrika se span wat meeding om die Billie Jean King-beker, tot vroeër vanjaar nog bekend as die Fedbeker.

Sy neem die leisels by Rene Plant wie se termyn in dié pos verstryk het.

Clarke, wat in Kaapstad gebore is, besef ’n moeilike taak lê voor haar omdat Suid-Afrika net drie vroue het wat onder die voorste 1 000 spelers op die wêreldranglys tel.

“Daar is ongelukkig nie ’n kitsoplossing, wat meer van ons vroue in staat sal stel om op die hoogste vlak deel te neem nie. Die belangrikste is om spelers te ontwikkel en dan te behou,” sê Clarke in ’n verklaring van Tennis SA.

“Daar is ’n algemene tendens dat minder meisies aanhou tennis speel sodra hulle die ouderdom van 15 of 16 bereik. Ons moet ’n manier vind om hulle te laat aanhou deelneem. Hulle moet vir hulself ’n toekoms in tennis kan sien.

“Ek het geen twyfel nie dat ons oor die nodige afrigtingsvernuf in die land beskik om topspelers te help lewer, maar dan moet ons spelers met langtermynontwikkelingsplanne help en vir hulle meer geleenthede skep om oorsee deel te neem.”

Clarke het ’n bewese agtergrond in tennis. As speler het sy die land in 2002 en 2003 in Fedbeker-wedstryde verteenwoordig.

Sy het in Amerika gaan studeer (eers in Florida en daarna in Arizona) en in die mededingende universiteitsreeks deelgeneem.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy hard gewerk om afrigtingskwalifikasies te verwerf en het sy verskeie Suid-Afrikaanse junior spanne afgerig.

Nadat sy ’n kwalifikasie as hoëprestasie-afrigter in Valencia, Spanje, verwerf het, is sy as hoofafrigter van die Internasionale Tennisfederasie se tennisprogram in die Stille Oseaan aangestel.

Sy was in Fidji gesetel en was verantwoordelik vir al die voorste spelers in die Oseanië-streek.

Die ITF moes egter vanweë die finansiële impak van die Covid-19-pandemie sy kantoor in Lautoka, Fidji, sluit en gevolglik het Clarke na Suid-Afrika teruggekeer.

Volgens haar sal haar eerste doelwit wees om die SA vrouespan weer terug te kry in die Euro/Afrika Groep II-afdeling van die Billie Jean King-beker se kompetisie.

“Daarbenewens wil ek help om ’n beter ondersteuningsprogram vir ons elite-, opkomende spelers en hul afrigters daar te stel. Ek en Tennis Suid-Afrika sal in hierdie verband nou saamwerk.”

Clarke sê sy sal ook so gou moontlik begin om landwyd toernooie by te woon, sodat sy haar kan vergewis van die talent tot haar beskikking in Suid-Afrika.

Meer oor:  Fedbeker  |  Tennis  |  Tsa  |  Tennis Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.