
Kim Clijsters. Foto: Getty Images
Welkom terug Kim Clijsters!
Die voormalige nommer 1-vrouespeler van België het gewys sy kan weer ’n faktor in tennis wees toe sy Garbine Muguruza groot laat skrik het in haar terugkeer tot die spel Maandagaand in die Dubaise kampioenskap.
Die 9de gekeurde Muguruza van Spanje het die eerste stel maklik met 6-2 gewen, maar het toe gesweet met die 36-jarige Clijsters wat, in haar eerste WTA-stryd sedert 2012 se Amerikaanse Ope, mooi teruggeveg het. Sy het met 5-4 in die tweede stel voorgeloop het nadat sy met 0-3 agter was. Muguruza, finalis in die Australiese Ope, moes in die valbylpot ook uithaal om dit met te 8-6 te wen om die stel met 7-6 te beklink.
Clijsters sou aanvanklik teen Kiki Bertens gespeel het, maar die Nederlander het onttrek. Clijsters het vooraf saam met Simona Halep vir die toernooi geoefen. – Sportredaksie