Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Comaneci gee Halep 10 uit 10 vir sege

Die legendariese Roemeense gimnas Nadia Comaneci het voorspel dat niemand in haar land die volgende paar dae gaan werk nie, omdat hulle te besig gaan wees om hul landgenoot Simona Halep se “ongelooflike” oorwinning oor Serena Williams in Saterdag se Wimbledon-eindstryd te vier.

Simona Halep, Roemenië se eerste Wimbledon-enkelspelkampioen, met die Venus Rosewater-trofee nadat sy Serena Williams Saterdag verslaan het. Foto: Getty Images

Toe Halep 13 maande gelede haar eerste Grand Slam-titel by die Franse Ope verower het, het sy by die paviljoen opgeklouter en was Comaneci die eerste persoon vir wie sy ’n drukkie gegee het.

Comaneci kon vanweë logistieke redes nie Saterdag in Londen wees vir Halep se groot dag nie, maar sy was vroeg uit die vere by haar huis in Oklahoma in die VSA om die aksie op televisie dop te hou.

Wat sy voor haar sien ontvou het, het vriend en vyand verras. Halep het in ’n meesterlike vertoning die wenner van 23 Grand Slam-titels – Williams – met 6-2, 6-2 van die baan gevee.

Simona Halep oomblikke ná haar tweede Grand Slam-titel en die eerste op die gewyde gras van Wimbledon.Foto: Reuters

Halep, Roemenië se eerste Wimbledon-enkelspelkampioen, het agterna dié skitterspel as die beste van haar lewe beskryf.

Hoewel Comaneci haar landgenoot se vertoning as “ongelooflik” en “fantasties” beskryf het, het sy gesê dit het haar geensins verbaas nie, “want Halep was geestelik reg vir dié oorwinning”.

“Dis nou tyd vir Roemeniërs om fees te vier. Niemand gaan vir ’n paar dae werk nie.”

Terwyl Comaneci, wat in 1976 beroemdheid verwerf het as die eerste gimnas wat ’n volmaakte 10 gekry het by die Olimpiese Spele, nie vooraf getwyfel het oor Halep se vermoë nie, was ander kenners minder seker dat Halep Williams sou kon troef.

Sy het immers net een van haar vorige tien wedstryde teen die Amerikaner gewen en daardie oorwinning was boonop bykans vyf jaar terug.

Maar met die woorde van Halep se ma aan haar as tienjarige – dat sy eendag Wimbledon moes wen as sy ’n groot naam in tennis wou word – wat in haar kop rondgemaal het, het sy net 56 minute nodig gehad om haar naam in die sport se annale te verewig.

Meen Comaneci dat Halep se Wimbledon-triomf ’n groter prestasie as haar titel by Roland Garros is?

“Roland Garros was die ysbreker en hierdie oorwinning is geskiedkundig,” het Comaneci geantwoord.

Julie is die maand wat altyd Roemenië se twee bekendste vroue met mekaar sal verbind, want dit was in daardie maand wat Comaneci in Montreal Olimpiese geskiedenis gemaak het.

Nadia Comaneci gee Simona Halep ’n drukkie nadat sy verlede jaar die Franse Ope in Parys gewen het.Foto: Getty Images

“Dit was op 18 Julie 1976 wat ek my volmaakte 10 gekry het. So, Julie is ’n pragtige maand in die geskiedenis van Roemeense sport.

“Dit was 43 jaar terug wat ons ons laaste Wimbledon-finalis (Ilie Nastase) gehad het en nou het Simona die volgende tree gegee. Sy is ook die enigste Roemeense vrou wat met twee Grand Slam-titels kan spog.”

Toe Halep verlede jaar huis toe is nadat sy die Franse Ope gewen het, het meer as 20 000 mense by ’n stadion in Boekarest opgedaag om haar terug te verwelkom en Comaneci glo haar jongste prestasie sal Roemeniërs weer verenig.

“Toe ek as 14-jarige uit Montreal teruggekeer het, was daar ook 10 000 mense wat my verwelkom het. Ek het nie geweet wat my getref het nie,” onthou Comaneci.

“Simona het die jong geslag gewys dat as jy hard werk en jou alles gee om ’n doelwit te verwesenlik, kan jy nie net die beste in Roemenië word nie, maar in die hele wêreld.” – Reuters

Meer oor:  Wimbledon  |  Simona Halep  |  Tennis  |  Serena Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.