Die tweemalige Australiese Ope-kampioen Victoria Azarenka is een van 24 spelers wat vir die volgende twee weke in kwarantyn sal deurbring ná twee positiewe Covid-19-toetse van passasiers op hul vlug na Melbourne.

Victoria Azarenka is een van 24 tennisspelers op ’n vlug van die VSA na Australië waar twee mense positief getoets het vir Covid-19. Foto: Getty Images
Die organiseerders van die eerste Grand Slam-toernooi van 2021 het Saterdag in ’n verklaring gesê dat sowel ’n lid van die vlugbemanning as ’n passasier, wat nie ’n speler is nie, positiewe uitslae gelewer het nadat die vlug uit Los Angeles vertrek het.
Dié twee is na ’n “gesondheidshospitaal” geneem, terwyl die res van die 79 mense wat aan boord die vlug was na “kwarantyn-hotelle” gestuur is.
Van die 79 mense was 67 passasiers.
“Die 24 spelers sal nie hul hotelkamers in die volgende 14 dae mag verlaat en totdat hulle mediese goedkeuring verkry nie,” sê die organiseerders in ’n verklaring.
“Hulle sal ook nie toegelaat word om te oefen nie.”
Die 24 spelers sal nie hul hotelkamers in die volgende 14 dae mag verlaat en totdat hulle mediese goedkeuring verkry nie.
Spelers sou aanvanklik tot soveel as vyf ure ’n dag gegun word om te oefen, maar ’n e-pos van Tennis Australië het sedertdien bevestig dat almal wat op die vlug was nou onderhewig aan ’n streng inperking sal wees.
“Die spelers en ondersteunende spanne sal nie kwarantyn mag verlaat om te gaan oefen nie,” het die Australiese tennisliggaam gesê.
“Die spelers word wel ondersteun deur toegang tot toerusting vir hul hotelkamers om hulle te help om fiks te bly tydens hierdie tydperk.”
Buiten Azarenka, wat die titel in 2012 en 2013 verower het, was die Amerikaner Sloane Stephens en Japan se Kei Nishikori ook op die vlug.
Nishikori het in Augustus Covid-19 gehad. – Sportredaksie