Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Curren se raad aan Anderson voor halfeindstryd

Dit is die geestelike taaiheid wat Kevin Anderson in sy epiese sege oor Roger Federer in die kwarteindronde van Wimbledon geopenbaar het wat die grootste indruk op hom gemaak het, sê Kevin Curren, die laaste Suid-Afrikaner wat die Wimbledon-eindstryd gehaal het.

Curren het in 1985 in die eindstryd teen Boris Becker verloor. Die enigste ander Suid-Afrikaners wat ’n Wimbledon-eindstryd gehaal het, was Sandra Reynolds in 1960 en Brian Norton in 1921.

Kevin Anderson vier sy riller-sege oor Roger Federer in die kwarteindronde op Wimbledon. Foto: AP

Tog glo Curren indien Anderson nou koelkop bly, kan hy hom by dié eksklusiewe groepie aansluit.

Hy kom nou Vrydag teen die Amerikaner John Isner te staan om ’n plek in die eindstryd, en hoewel Anderson nog net drie van hul 11 vorige ontmoetings kon wen, is dit nie ’n stukkie statistiek wat hom sal kwel nie.

Hy het reeds vandeesweek teen twee teenstanders baanbrekerswerk gedoen deur beide Gael Monfils en Federer die eerste keer nóg te verslaan, nadat hy tevore onderskeidelik vyf en vier keer teen hulle vasgeval het.

“Ek moet eerlik wees dat ek ná daardie eerste twee stelle nie gedink het hy staan ’n kans om Federer te klop nie,” het Curren uit Durban gesê.

“Om ’n wedstrydpunt teen jou te hê (in die valbylpot van die derde stel) en dan nog terug te kom en meer as twee ure later met ’n speler soos Federer klaar te speel, wil gedoen wees.

“Ek is baie beïndruk dat hy kalm kon bly onder al daardie druk en kon deurdruk. Sy konsentrasie was ongelooflik, veral met die meerderheid toeskouers ook nog teen hom. Ek het nie geglo hy kan vir só lank op só ’n hoë vlak speel nie.

“Wat ook ’n indruk op my gemaak het, is hoe hy die ongedwonge foute beperk het. Met tye in sy loopbaan was Kevin maar ’n bietjie van ’n wisselvallige speler. Hy kon briljante dinge doen, maar dit dan met dom foute opvolg. Sy bestendigheid onder geweldige druk het vir my uitgestaan,” sê Curren.

Kevin Anderson het uitsonderlike spel in sy skoksege oor die agtmalige Wimbledon-kampioen opgedis.Foto: Reuters
Roger Federer, wat ’n wedstrydpunt gehad het in die derde stel, kon skaars glo wat met hom teen Kevin Anderson gebeur het.Foto: AP

Dié man, wat onderweg na sy Wimbledon-eindstryd met drie van die grootstes in die spel afgereken het – John McEnroe, Jimmy Connors en Stefan Edberg – glo die feit dat Anderson verlede jaar die eindstryd van die Amerikaanse Ope gehaal het, het wondere vir sy selfvertroue gedoen.

“In tennis is die verskil tussen wen en verloor soms baie klein. Tog het Kevin met soveel selfvertroue gespeel. Dit was goed om te sien hoe bestendig sy spel was en hoe hy die foute kon beperk. Vir my was dit die sleutel tot sy sukses,” sê Curren.

As iemand wat weet wat dit verg om ’n Wimbledon-eindstryd te haal, wat sal sy raad aan Anderson wees?

Kevin Curren in 1985 op Wimbledon in aksie. Hy het daardie jaar in die eindstryd teen ’n jong Boris Becker verloor. Curren het in 1983 ook die halfeindronde gehaal, waar hy met 6-8 in die vyfde stel teen die Nieu-Seelander Chris Lewis verloor het. Foto: Getty Images

“Ek hoop hy het sy sege Woensdagaand geniet en goed met ’n lekker aandete ontspan. Donderdag moet hy egter weer terugkeer na sy roetine wat sy oefenprogram en voorbereiding betref.

“Hy moet ook nie daaraan dink dat hy nou so naby aan die titel of selfs die eindstryd is nie. Hy moet sy volgende wedstryd sien as ’n gewone kragmeting – asof dit selfs ’n stryd in die eerste ronde is. Dit is nou tyd vir vasbyt. Die Federer-sege is verby en hy kan nie té veel daaraan dink nie.

“Hy moet ook nie daaraan dink dat hy die titel kan wen nie. Daar is nog twee wedstryde oor en hy moet in die oomblik bly en net dinge punt vir punt vat. Dit is wat hy só goed teen Federer gedoen het,” sê Curren.

“Jy kan nie jou pad deur Wimbledon bluf nie. Dit is die grootste uitdaging van enige toernooi in wêreldtennis, met die baanoppervlak wat oor die twee weke so drasties kan verander en ook die weer wat so wispelturig kan wees.”

Dink hy Anderson kan Sondag die trofee omhoog hou?

“Natuurlik. Ek glo hy sal Isner kan klop, en dan verwag ek hy sal in die eindstryd teen (Novak) Djokovic speel en vir my is daar geen rede hoekom hy hom nie ook kan klop nie,” sê Curren.

Djokovic kom in die ander halfeindstryd teen die tweede gekeurde en Franse Ope-kampioen, Rafael Nadal, te staan.


Meer oor:  Kevin Anderson  |  Wimbledon  |  Kevin Curren  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.