Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Daniil bloei; Jelena treur oor pa se dood

Die vierde gekeurde Daniil Medvedev het Donderdag die derde ronde van die Australiese gehaal met ’n oorwinning in skoonstelle teen die Spaanse kwalifiseerder Pedro Martinez.

Daniil Medvedev se neus het in die tweede stel begin bloei. Foto: Getty Images

AusOpen.com berig die 23-jarige Rus, wat in September in die eindstryd van die Amerikaanse Ope deur Rafael Nadal geklop is, se neus het in die tweede stel begin bloei. Maar Medvedev het hom nie laat onderkry nie en was in ’n rapsie meer as twee uur met 7-5, 6-1, 6-3 baas.

Hy het 19 kishoue gemoker teen die 22-jarige Martinez, wat in slegs sy tweede Grand Slam-toernooi meeding.

Medvedev, die hoogste gekeurde speler na die Groot Drie van Nadal, Novak Djokovic en Roger Federer, pak die wenner van die wedstryd tussen Jaume Munar en Alexei Popyrin vir ’n plek onder die laaste 16.

* ’n Hartgebroke Jelena Ostapenko van Letland is uit die toernooi geboender nadat sy die moeilike besluit geneem het om te speel ten spyte van die skielike dood van haar pa.

Jelena Ostapenko se pa is onlangs skielik dood. Foto: Getty Images

Die 22-jarige voormalige Franse Ope-kampioen se pa, Jevgenijs, is vroeër vandeesmaand dood. Ostapenko sê om in Melbourne mee te ding sou die beste manier wees om haar gedagtes van haar verlies af te lei.

“My pa het altyd in my geglo en ek het besluit om (in Melbourne) te speel want ek sou besig wees met iets,” het sy voor Donderdag se kragmeting teen Belinda Bencic gesê.

“As ek by die huis gebly het dink ek dit sou selfs moeiliker vir my gewees het.”

Ostapenko het in die eerste ronde met die Rus Liudmila Samsonova afgereken voordat die sesde gekeurde Switser Bencic haar Donderdag met 7-5, 7-5 getroef het.

Ostapenko is nie die enigste jong tennisster wat haar pa onlangs aan die dood afgestaan het nie.

Aryna Sabalenka se 43-jarige pa is in November dood en Amanda Anisimova se pa is kort voor die Amerikaanse Ope dood.

* Die tweede gekeurde Tsjeg Karolina Pliskova is veilig deur na die derde ronde nadat sy gemaklik met 6-3, 6-3 met Laura Siegemund van Duitsland afgereken het.

Sy was in ’n uur en 26 minute baas.

Garbine Muguruza, wenner van twee Grand Slam-titels, se besluit om berg Kilimandjaro uit te klim ter voorbereiding vir die seisoen werp vrugte af.

Die Spanjaard het die Aussie Ajla Tomljanovic met 6-3, 3-6, 6-3 geklop.

Die 26-jarige Muguruza het die Franse Ope in 2016 gewen en Wimbledon die volgende jaar beklink, maar haar loopbaan het sedertdien ontspoor en sy bevind haar nou 32ste op die wêreldranglys.

Sy het verloor in die eerste ronde van die vorige twee major-toernooie, Wimbledon en die Amerikaanse Ope, wat haar laat besluit het om iets radikaal anders te doen in die aanloop tot die 2020-seisoen.

Garbine Muguruza het Kilimanjaro in November uitgeklim. Foto: Getty Images

“Jy klim daardie berg en dit is net jy. Jy kry nie enige erkenning, prys of niks tot daarbo nie,” het sy gesê nadat sy in November Afrika se hoogste berg uitgeklim het.

“Dit is werklik ’n fisieke en geestelike uitdaging en ek was net opsoek na iets pret, ’n ander ervaring as tennis.”

VOLLEDIGE UITSLAE

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.