Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Dankie, Dom! Kevin deur na halfeind

Kevin Anderson se plek in die halfeindronde van die ATP-reeks se jaareindtoernooi is Donderdagmiddag vasgemaak – net minder as ses ure voor die aanvang van sy laaste groepwedstryd.

Uiteindelik aan die wenkant! Dominic Thiem bal sy vuis ná hy met Kei Nishikori afgereken het by die ATP-reeks se jaareindtoernooi. Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaner was die groot wenner in die wedstryd tussen Dominic Thiem en Kei Nishikori, met die Oostenryker wat net drie potte moes wen om Anderson te laat deurdring. 

Thiem het dít in ’n oogwink vermag toe hy Nishikori se heel eerste afslaanpot gesteel het. Hy het uiteindelik met 6-1, 6-4 geseëvier om die Japanner se toernooi te beëindig en homself ’n skrale kans te gee om self ook deur te dring.

Sy lot is egter in die hande van Anderson en Roger Federer, met slegs ’n sege vir die Suid-Afrikaner wat Thiem se droom lewend kan hou.

Daardie wedstryd begin Donderdag om 22:00 (SA tyd) en sal ook bepaal of Anderson eerste of tweede in sy groep eindig.

Die speler wat tweede eindig sal waarskynlik in die halfeindronde moet huis hou met Novak Djokovic, die ysterman in die ander groep.

Thiem het voor Donderdag albei sy wedstryde in Londen se O2-arena verloor en homself onder druk geplaas om beter te vertoon in sy laaste groepstryd. Nie net het hy dít reggekry nie, maar Nishikori het boonop in die eerste stel min tot geen teenstand gebied.

Die Japanner is Dinsdag met 6-0, 6-1 deur Anderson afgeransel en het na dese hope vrae in sy kop oorgehou.

In die tweede stel het hy beter gelyk en Thiem selfs ’n paar keer ore aangesit met slim valhoutjies en goeie voorarmhoue.

Tog was hy steeds sy eie grootste vyand. Toe die stof gaan lê het hy weggestap met 41 ongedwonge foute teen sy naam (teenoor Thiem se 21) en net 11 wenhoue. 

Dít, tesame met ’n hopelose tweede afslaan en Thiem se vasberadenheid, het sy doppie geklink. 

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.