Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
3de keer skeepsreg vir Serena?

Serena Williams het ’n goeie geleentheid om haar Saterdag met haar derde kans by Margaret Court aan te sluit wat met ’n rekord van 24 Grand Slam-enkelspeltitels spog.

Wimbledon
Serena Williams het Donderdag na haar elfde Wimbledon-eindstryd deurgedring toe sy Barbora Strycova in skoon stelle geklop het. Foto: Getty

Die 11de gekeurde Amerikaner kom dan in haar 11de eindstryd op Wimbledon teen Simona Halep te staan wat in haar eerste eindstryd daar gaan speel. Die Roemeen kon Williams nog net een keer, vyf jaar gelede, in hul tien voltooide wedstryde klop. Halep het verlede jaar die Franse Ope gewen en sal Saterdag in haar vyfde Grand Slam-eindstryd speel.

Die 37-jarige Williams het haar plek bespreek toe sy die Tsjeg Barbora Strýcová Donderdag met 6-1, 6-2 in hul halfeindstryd getroef het. Die 33-jarige Strýcová kon nog nooit ’n stel in die spelers se vorige drie wedstryde wen nie en Donderdag in die eerste Grand Slam-halfeindstryd van haar loopbaan het dit so gebly.

Williams het in die sewende pot van die eerste stel twee breekpunte afgeweer om dit toe met 6-1 in net 27 minute te wen. Die sewemalige kampioen het in die vyfde pot die voortou in die tweede stel geneem. Sy het dit met ’n agtereenvolgende deurbraak 5-2 gemaak om vir die wedstryd af te slaan. Alles was in net 59 minute iets van die verlede.

Die laaste van Williams se 23 Grand Slam-enkelspeltitels was in 2017 in die Australiese Ope. Sy het in September daardie jaar ma geword waarna verlede jaar se Franse Ope die eerste Grand Slam-toernooi na haar teruggekeer was.

Williams het verlede jaar in die eindstryd van Wimbledon sowel as die Amerikaanse Ope kanse gehad om Court se rekord te ewenaar, maar moes die knie teen onderskeidelik Angelique Kerber en Naomi Osaka buig.

Williams het Donderdag ’n paar keer met ’n kragtige afslaan vorendag gekom wat Halep onrustig sal maak.

Ditto die manier hoe Williams Donderdag beweeg het.

“Ek het baie beter beweeg as aan die begin van die toernooi. Ek het eintlik net ’n paar wedstryde daarvoor nodig gehad,” sê Williams.

wimbledon
Die Roemeen Simona Halep vier Donderdag haar oorwinning in die halfeindronde oor Elina Svitolina van die Oekraïne. Foto: AP

Halep, die sewende gekeurde, het die Oekraïne se Elina Svitolina totaal oorheers in die dag se eerste halfeindstryd.

Die Roemeen was in 72 minute met 6-1, 6-3 baas.

Die agtste gekeurde Svitolina, die eerste vrou van Oekraïne in ’n Wimbledonse halfeindstryd, het in die tweede stel effens haar voete gevind. Halep het egter met die sewende pot die eerste deurbraak van die tweede stel bewerkstellig en daarna nie weer teruggekyk nie. Sy het aan die einde twee wedstrydpunte gehad en kon eers met die tweede die wedstryd beklink nadat sy met die eerste dalk te gretig was en die bal toe in die net vasgeslaan het.

Die 27-jarige Halep was vyf jaar gelede in 2014 ook in die halfeindstryd op Wimbledon betrokke. Donderdag het sy ’n tree verder gegee.

Sy het ná die tyd gesê dis “die beste oomblik van my lewe” om nou vir die eerste keer na die eindstryd deur te dring. Sy is baie opgewonde op die moontlike kans wat sy het om die Venus Rosewater-plaat die eerste keer omhoog te hou. 

Meer oor:  Wimbledon  |  Serena Wil­Liams  |  Halfeind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.