Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Dimitrov toets positief vir Covid-19

Die Bulgaarse tennisspeler Grigor Dimitrov, voorheen die wêreld se nr. 3-speler, moes hom aan die Adria-vertoonreeks in Kroasië onttrek nadat hy positief getoets is vir Covid-19.

Die Bulgaarse tennisster Grigor Dimitrov is ook positief getoets vir Covid-19. Foto: Getty Images

Die 29-jarige Dimitrov het dié nuus Sondag onthul, met die eindstryd tussen Novak Djokovic en Andrey Rublev wat gevolglik gekanselleer is.

“Ek wil uitreik en my ondersteuners en vriende laat weet dat ek terug in Monaco positief getoets is vir Covid-19,” het die speler op Instagram geskryf.

“Ek wil seker maak dat enigiemand wat in kontak was met my die afgelope paar dae getoets word en dat hulle die nodige voorsorgmaatreëls tref.”

“Ek is jammer vir enige skade wat ek dalk veroorsaak het. Ek is terug by die huis en aan die herstel. Dankie vir julle ondersteuning en bly asseblief veilig en gesond.”

Dimitrov het Saterdag begin siek voel en het hom aan die toernooi onttrek ná sy wedstryd teen die Kroaat Borna Coric. Laasgenoemde het Maandag ook bevestig dat hy positief getoets is vir die koronavirus, maar dat hy geen simptome van die siekte toon nie.

Die tweede skof van die Adria-reeks, ’n liefdadigheidstoernooi wat deur Djokovic gereël is terwyl internasionale tennistoernooie opgeskort bly weens die Covid-19-pandemie, het in Zadar in Kroasië plaasgevind.

“Ons is pas ingelig dat Grigor Dimitrov positief getoets is vir die koronavirus en sal daarom die eindstryd van die toernooi in Zadar moet afstel,” het Goran Ivanisevic, Djokovic se afrigter en die toernooi se direkteur, aan ondersteuners by die eindstryd gesê.

Die derde skof van die reeks, wat op 27 en 28 Junie in Montenegro sou plaasgevind het, is ook reeds gekanselleer weens Covid-19-vrese.

Ná die Dimitrov-voorval en die nuus van Coric, is die kans goed dat die laaste toernooi in die reeks, op 3 en 4 Julie in Bosnië, ook afgelas sal word.

Djokovic se broer, Djordje, die direkteur van die Adria-reeks, het intussen gesê almal wat in kontak met Dimitrov was, sal getoets word vir die koronavirus.

* Intussen het Kroasië se Borna Coric, wat ook die afgelope naweek in die toernooi gespeel het, Maandag ook gesê dat hy positief vir die virus getoets het.

Coric, wat 33ste op die wêreldranglys is, het op Twitter dié nuus aangekondig.

“Ek wil seker maak dat enige iemand wat in kontak met my was in die afgelope paar dae hulself ook laat toets,” het die 23-jarige gesê.

“Ek is baie jammer vir enige skade wat ek mag veroorsaak het. Ek voel goed en het geen simptome nie.”

Luidens die Serwiese koerant Sportski Zurnal het Djokovic se fiksheidsafrigter ook positief getoets.

Voor die toernooi gestop is, het die toeskouers ingestroom, terwyl spelers ook blad geskud het by die net en vir foto’s poseer het.

Dít nadat Serwië en Kroasië maatreëls rakende inperkings verslap het weke voor die toernooi begin het met geen verpligting vir inwoners om nog by maatreëls rakende sosiale afstand te hou nie.

Ná die nuutste ontwikkelinge het Nick Kyrgios op Twitter gevra of Djokovic, Dominic Thiem en Alexander Zverev ook hulself laat toets het na afloop van Dimitrov se uitslag.

Die voormalige Amerikaanse tennisspeler Chris Evert het die organiseerders gekritiseer nadat hulle nie sosiale afstand-riglyne gevolg het nie.

“Totale fisieke kontak, geen maskers nie, selfs die toeskouers was sonder maskers. Ek verstaan dit nie,” het sy gesê. – Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.