Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Dis Kevin teen Rafa in Ope-eindstryd!

Een Spanjaard lê bloedneus aan sy voete. En nou staan net een Spanjaard tussen Kevin Anderson en die soetste – maar onwaarskynlikste – prys van sy lewe: die Amerikaanse Ope-trofee.

Uiteindelik! Kevin Anderson se glimlag haak by sy ore vas nadat hy die eerste Grand Slam-eindstryd van sy loopbaan bereik het. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se Kevin Anderson sal Sondagaand rondom 22:00 (SA tyd) New York se Arthur Ashe-stadion binnestap vir die eindstryd van die Amerikaanse Ope, nadat hy Spanje se Pablo Carreno Busta vroeg Saterdagoggend in die halfeindronde binne net minder as drie ure met 4-6, 7-5, 6-3, 6-4 verslaan het.

Die 31-jarige hemelbesem het vir die grootste deel van dié wedstryd die kitaar geslaan, met sy eie senuwees deurgaans ‘n veel groter vyand as die Spanjaard aan die ander kant van die net. Carreno Busta het die halfeindronde binnegegaan sonder om ‘n stel in die toernooi te verloor, maar met Anderson se grootste wapen – ‘n byna perfekte afslaan – het hy min raad gehad. En toe die Suid-Afrikaner eers sy selfvertroue herontdek, was dit koebaai Meraai vir die 26-jarige Spanjaard.

Nou wag ‘n 31-jarige Spanjaard in die eindstryd: Rafael Nadal. Hy het verstommend min moeite gehad om die Argentyn Juan Martin del Potro in sy halfeindstryd met 4-6, 6-0, 6-3, 6-2 om te dop.

Nadal is hier Goliat en Anderson kleine Dawid. Die Spanjaard is die wêreld se voorste speler, ‘n tweemalige Amerikaanse Ope-kampioen, vyftienmalige Slam-kampioen en ‘n speler wat Anderson nog nooit kon klop nie. Dis die taaiste toets denkbaar – maar een wat die Suid-Afrikaner met ope arms verwelkom.

So onlangs as ‘n week gelede sou bitter min mense immers voorspel het dat Anderson steeds staande sou wees op kampioenskap-Sondag. Hy val in die kategorie van onwaarskynlike finalis, maar jy gaan ver soek om iemand te kry wat meen hy het nie die afgelope twee weke die reg om daar te wees verdien nie.

Onderweg na die halfeindstryd het Anderson net twee stelle verloor, en net drie van sy 87 afslaanpotte.  Hy het sy teenstanders se hoop verydel met daardie berugte afslaan, hulle die skrik op die lyf gejaag deur te brul en vuis te bal en hulle die doodskoot toegedien met krag en kreatiwiteit.

Teen Carreno Busta was Anderson in die eerste stel ‘n wandelende senuweewrak. Hy het 14 van sy uiteindelike 43 ongedwonge foute in dié stel gemaak, net agt wenhoue geslaan en die stel verloor omdat hy nie die bal tussen die lyne kon hou nie. Carreno Busta het min anders gedoen as om Anderson te probeer frustreer. Hy het net een ongedwonge fout in die eerste 33 minute gemaak, maar ook net twee wenhoue geslaan.

Dit het ‘n aanmaning van die skeidsregterdat Anderson moet ophou kommunikeer met sy afrigter geverg om die gety te draai. Dit was halfpad deur die tweede stel en dit was asof dit ‘n vlam in die gebore Johannesburger aangesteek het. Skielik was die aggressie en waagmoed wat hom so ver gebring het terug. In die laaste drie stelle het hy 18 kishoue afgevuur en 50 wenhoue geslaan. Die Ashe-stadion is trakteer op Anderson se heel beste.

Ná die laaste hou geslaan is, het ‘n verheugde Anderson op ‘n stoel en toe ‘n blompot geklouter om by sy mense in die pawiljoen uit te kom. Dis die tipe feesviering wat jy gewoonlik van pasgekroonde kampioene verwag – maar niemand mag die Suid-Afrikaner misgun dat hy dít gedoen het nie.

Rafael Nadal jil van plesier nadat hy die eindstryd van die Amerikaanse Ope vir die eerste keer in vier jaar gehaal het. Foto: Getty Images

Op 31 en ná tien jaar as beroepspeler het hy die halfeindronde binnegegaan met die wete dat dit dalk sy eerste én laaste kans is om ‘n Slam-eindstryd te haal. So vroeg as die vierde ronde was die twaalfde gekeurde Carreno Busta die top-gekeurde aan sy en Anderson se kant van die loting, nadat die tweede gekeurde Andy Murray onttrek het en sowel Alexander Zverev (4de gekeur) as Marin Cilic (5de gekeur) in die eerste week uitgeskakel is.

Boonop het Anderson ‘n lang stryd teen die beseringspook agter hom gehad. Nege maande gelede het ‘n dokter Anderson aangeraai om ‘n heupoperasie te ondergaan en so veel as ‘n jaar lank weg van die tennisbaan te bly vir rehabilitasie. In die jaar voor dít was hy onder die mes vir ‘n gekrokte enkel en moes hy lies-, knie- en skouerbeserings te bowe kom.  Nie lank terug nie het hy gedink hy sal nooit weer in ‘n Grand Slam-toernooi speel nie – wat nog te sê van ‘n eindstryd haal.

“Ek is nie seker wat om te sê nie,” het Anderson aan die skare in die Ashe-stadion gesê. “Dít is waarom ons so hard werk, om hier uit te kom. Dit was ‘n moeilike wedstryd, ‘n eerste vir my – soos vir Pablo ook – op een van die beroemdste verhoë in tennis. Ek moes baie diep delf en ek is in die wolke. Dit beteken die wêreld vir my.

 Anderson (die 28ste gekeurde) is nou die laagste gekeurde speler ooit wat ‘n Slam-titelstryd haal. Hy  is boonop die eerste man van ons lap aarde in 32 jaar wat so ver vorder in ‘n Slam. Die gebore Durbaniet Kevin Curren het in 1985 se Wimbledon-eindstryd teen Boris Becker verloor, maar was  toe reeds ‘n Amerikaanse burger.

'n Paar weke daarna het Curren in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope verloor, en woedend aan die media gesê hy sal nie omgee as iemand 'n bom op die Flushing Meadows-kompleks gooi nie. Vanselfsprekend is dit nie 'n sentiment wat Anderson deel nie. 

Die laaste keer wat 'n Suid-Afrikaanse burger in 'n Grand Slam-eindstryd gespeel het, was in Januarie 1982, toe Johan Kriek die Australiese Ope-titel gewen het. ‘n Jaar later, toe hy daardie titel suksesvol verdedig, was hy ook ‘n Amerikaner.

By die VSA se Slam moet jy 52 jaar terugkyk vir die laaste Suid-Afrikaner in die eindstryd: Cliff Drysdale in 1965.

 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.