Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Dis ’n Barty-party op Wimbledon

Die eerste gekeurde Ashleigh Barty van Australië het haar tweede Grand Slam-tennistoernooi gewen toe sy die Tsjeg Karolina Pliskova met 6-3, 6-7(4), 6-3 Saterdag in die vroue se enkelspeleindstyd op Wimbledon geklop het.

Ashleigh Barty nadat sy die wedstryd Saterdag op Wimbledon gewen het. Foto: Getty Images

Die was albei se eerste eindstryd in die grasbaantoernooi.

Die 29-jarige Pliskova, ’n voormalige nr. 1-speler, kon nog nooit ’n Grand Slam-titel wen nie. Sy was Saterdag in haar tweede eindstryd weer die strooimeisie, ondanks ’n goeie terugvegpoging in die tweede stel.

Die eerste stel het vyf breekslae opgelewer.

Die 25-jarige Barty het die ideale begin gehad en binne 11 minute met 4-0 voorgeloop.

Die agtste gekeurde Pliskova kon ’n deurbraak van haar eie bewerkstellig, maar het vir die derde keer agtereenvolgend haar afslaanpot verloor.

Barty het op 5-1 vir die eerste stel afgeslaan toe sy haar afslaan ’n tweede agtereenvolgende keer verloor het. Sy moes wag vir haar volgende afslaanpot om die eerste stel in net minder as ’n halfuur in te palm.

Pliskova het in die tweede stel op 3-2 en 5-6 met deurbrake daarin geslaag om sake weer gelykop te maak.

Sy het met heelwat meer vryheid begin speel en ook ’n paar kishoue lanseer.

’n Paar onnodige foute deur Pliskova op 40-0 op 5-5 het Barty ’n breekpunt besorg.

Barty het op 6-5 afgeslaan vir die wedstryd, maar Pliskova wou nie bes gee. Sy het daarin geslaag om ’n valbylpot af te dwing wat sy met 7/4 gewen het om ’n derde stel af te dwing.

Barty het toe die eerste drie potte in die beslissende derde stel gewen. Sy was op 5-2 toe die akteur Tom Cruise opgestaan het en die skare gegroet het – ook in cruise mode soos hulle in Engels sê.

Sy het aan die einde haar eerste wedstrydpunt benut nadat Pliskova teruggeveg het om dit gelykop in die laaste pot te maak.

Barty was in trane toe sy haar afrigtingspan in hulle hokkie gaan omhels het, terwyl Pliskova met haar toespraak agterna ook ’n traan weggepink het.

Die Aussie het in ’n romp baie soos dié rok waarin Evonne Goolagong destyds gespeel het, haar landgenoot se titel 50 jaar gelede daar gepas herdenk. Goolagong was in 1980 ook die laaste Aussie-vrou om op Wimbledon te wen.

Barty is die vyfde vrouekampioen van ’n verskillende land in die laaste vyf toernooie. – Sportredaksie, wimbledon.com

Wenners van die laaste vyf toernooie:

2016 – Serena Williams (VSA)

2017 – Garbine Muguruza (Spanje)

2018 – Angelique Kerber (Duitsland)

2019 – Simona Halep (Roemenië)

2020 Geen toernooi weens Covid-19-pandemie

2021 – Ashleigh Barty (Australië)

Meer oor:  Wimbledon  |  Karolina Pliskova  |  Ashleigh Barty
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.