Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djoker én Delpo: Krank tot kookwater

As ’n jong seun het Juan Martín del Potro voor die televisie ingeskuif vir twee goed: die sokkerwedstryde waarin Argentinië betrokke was, en die Amerikaanse Ope-tennistoernooi.

Sy kinderdroom van Wêreldbeker-sokker vir Argentinië het nooit waar geword nie – maar die fantasie van seëvier in die Amerikaanse Ope hét, toe hy net 20 jaar oud was.

Novak Djokovic hoop om vandag sy derde Amerikaanse Ope-titel te wen.Foto’s: Getty IMages

Niemand sou voorspel het dat dit hom nege jaar sou neem om terug te keer na die eindstryd in New York nie. Geen wonder nie hy voel hy het vandag niks om te verloor nie . . .

Ná vier operasies aan ’n gekrokte linkerpols en baie, baie trane en frustrasie is die 29-jarige Argentyn uiteindelik terug in ’n hoofrol op een van Grand Slam-tennis se grootste verhoë, waar hy Sondagaand (SA tyd) met die Serwiër Novak Djokovic sal kragte meet.

Del Potro, wat die afgelope nege jaar weens daardie seer pols gans te min na sy eie sin gespeel het. Hy wou tennis in 2015 selfs vaarwel toeroep. Dus sal hy nie die ironie miskyk in die manier waarop hy in Sondag se eindstryd beland het nie.

Vrydag was dit sy teenstander, die verdedigende kampioen Rafael Nadal, wat deur ’n besering uit die Ope gedwing is.

Die Spanjaard het vir twee uur en een minuut probeer vasbyt terwyl sy knie – én Del Pot­ro – hom opgedreun het, maar moes uiteindelik die handdoek ingooi. In daardie stadium was die Argentyn met 7-6, 6-2 voor.

Juan Martín del Potro

Dit het ’n baie hoë hekkie uit Del Potro se pad na die trofee gehaal – maar die laaste hekkie van vandag, is self ’n moeilike een.

Djokovic tree vandag aan vir sy agtste Amerikaanse Ope-eindstryd, ná twee maande waarin hy so te sê alles voor hom weggevee het.

Sy lyf het self in 2016 en 2017 begin ingee, en hy moes vroeër vanjaar ’n elmboogoperasie ondergaan om sy loopbaan terug op koers te kry.

Maar soos Del Potro, kan hy nou tong uitsteek vir die beseringspook.

Hy het twee van sy laaste drie toernooie gewen en die laaste twee weke gespeel soos ’n man met volle vertroue in homself en sy tennis.

Maklik gaan Del Potro dit nie Sondag hê nie – maar hy het Vrydag gesê hy is reeds tevrede met sy tyd in New York.

“As ek wen, wonderlik,” het hy aan ESPN gesê. “Indien nie, het ek ’n fantastiese toernooi gehad en sal ek in elk geval gelukkig wees.”

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.