Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Kan Roger, Rafa of die melkbaarde hom stuit?
Djoko reik na Berg Fed in Australië

27 Januarie 2019, Rod Laver-arena, Australië. Die Serwiër Novak Djokovic is op die kruin van die golf.

Op ’n sonnige Sondag in Melbourne kom hy in die Australiese Ope-eindstryd teen sy mede-tennislegende Rafael Nadal te staan – en verneder die Spanjaard in net meer as twee ure met 6-3, 6-2, 6-3. Dit lewer sy sewende Grand Slam-sukses in Australië en 15de wêreldwyd.

Novak Djokovic vier sy sege oor Rafael Nadal in die eindstryd van verlede week se ATP-bekertoernooi. Foto: Getty

Die geleentheid is uiteindelik meer tenniskliniek as Grand Slam-titelstryd.

14 Julie 2019, Wimbledon-hoofbaan, Engeland. Djokovic stotter en stamel – maar kraai steeds in die Wimbledon-eindstryd koning oor Roger Federer.

Ná ’n vyfstel-marathon wat ’n eindtelling van 7–6(5), 1–6, 7–6(4), 4–6, 13–12(3) kan ’n mens nie help om te voel die beste speler het verloor nie. Maar dít maak nie saak nie. Daar is nog ’n kerfie op Djokovic se Grand Slam-stok: ’n 16de wat hom binne trefafstand van sowel Federer (20) as Nadal (toe 18) plaas.

Waarom, sal u dalk vra, hierdie geskiedenisles? Omdat niks waarskynlik beter kan opsom wat Novak Djokovic so ’n gevaarlike teenstander op die grootste verhoog maak nie. Hy het die vermoë om aan die einde van twee weke se Slam-tennis steeds vir die belangrikste stryd op te daag met al die pyle in sy koker vlymskerp – en as dít nie gebeur nie, is hy steeds taai genoeg om met ’n B-vertoning af te reken met een van die bestes van alle tye.

Die Serwiër gaan vanjaar se Australiese Ope as die tweede gekeurde binne, agter die wêreld- nr. 1-Nadal, maar dis blote oëverblindery. Djokovic is vanjaar weer die oorweldigende gunsteling.

Soos Wimbledon Federer se gunsteling-jagveld is en Roland Garros Nadal se koninkryk, is Melbourne Park die speelgrond waarop Djokovic die graagste boelie.

Hy het die Australiese Ope reeds sewe keer gewen, meer as enige ander man. Dis waar hy sy deurbraak in die Slams in 2008 gemaak het, en waar die glimlag altyd moeilik van sy gesig gevee word.

Boonop daag hy dié keer daar op met een oog op die geskiedenis. As die jongste van die Groot Drie – en die afgelope twee jaar ook die bestendigste – word hy nou as die gunsteling beskou om sy loopbaan met die meeste Grand Slam-krone agter sy naam af te sluit. Wen hy vanjaar al vier grotes – weliswaar ’n hoogs onwaarskynlike gebeurtenis – sal hy gelyk trek met Federer en voor Nadal op die lys wees.

Federer het terloops net gister te kenne gegee dat hy nie meer die gulsigste man in Slam-tennis sal wees wanneer al drie legendes hul rakette weggepak het nie.

“Die rigting waarin dit gaan, wys Rafa en Novak gaan meer wen. Hulle is net so goed. En die seisoen wat hulle (in 2019) gehad het, wys net weer daar is meer op die horison vir hulle,” het hy volgens Fox Sports met ’n tevrede gelatenheid gesê.

Dit sou natuurlik dwaas wees om te dink dat Federer se 38-jarige bene nou waaragtig te oud is om nog ’n Slam op te lewer. Ons het dit gesê toe hy 37 en 36 en 35 was. Heng, ons het dit gesê toe hy 32 was.

Verlede jaar het gewys sy bestendigheid is nou gebrekkig. Warm vandag, yskoud môre – en dis geen wenresep nie, soos Federer in 2019 herinner is.

Nadal kan natuurlik ook nooit buite rekening gelaat word nie – maar die geskiedenisboeke dui aan hy sal op iemand anders moet staatmaak om Djokovic uit sy pad te stamp. Hy kon immers laas in 2013 op ’n harde baan met die Serwiër afreken.

Moet ook nie verbaas wees as dit een van tennis se Jong Turke is wat die Serwiër van sy troon stamp nie. Die melkbaard Stefanos Tsitsipas speel hardebaard-tennis, Daniil Medvedev is so hardekwas soos hulle kom, Dominic Thiem raak jaar ná jaar beter, Alexander Zverev se talent móét een of ander tyd harder as die wrede stemme in sy kop begin praat en Denis Shapovalov het die wapens om die verrassingspakkie van die toernooi te wees.

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt kan ons uiteindelik weer opgewonde bespiegel oor Kevin Anderson se kanse by ’n grote, nadat hy uiteindelik herstel het van die besering wat hom die grootste deel van 2019 gekniehalter het. Die 33-jarige hemelbesem begin raak ook nou lank in die tand, maar hy het ’n klompie uitmuntende vertonings by die ATP-bekertoernooi gelewer. Daar is duidelik nog skop in hom.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Rafael Nadal  |  Australiese Ope  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.