Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak Djokovic bly op koers vir rekord
Novak Djokovic is deur na die halfeindronde van die ATP-jaareindtoernooi in Londen. Foto: Getty Images

Novak Djokovic het sy kanse lewend gehou om die rekord van ses tennistitels in die ATP-jaareindtoernooi in Londen te ewenaar toe hy sy plek Vrydag in die halfeindronde bespreek het.

Die Serwiër het Alexander Zverev van Duitsland met 6-3, 7-6(4) in hul laaste groepwedstryd verslaan.

Albei het vooraf een groepwedstryd gewen en een verloor, wat meegebring het dat Vrydag se wedstryd ’n “kwarteindstryd” was.

Die valbylpot tussen hulle aan die einde was die eerste een tussen hulle in ses wedstryde. Deur dit te wen, het Djokovic ook seker gemaak dat geen wedstryd tussen hulle nog met ’n bykomende stel uitgerek is nie.

Hy het ook wraak geneem ná Zverev hom in 2018 se eindstryd in Londen geklop het. Hy kon Roger Federer se rekord al geëwenaar het as dit nie daarvoor was nie.

Alexander Zverev het Vrydag sy laaste groepwedstryd in twee stelle verloor. Foto: Getty Images

Zverev het Vrydag sy kanse gehad.

Hy het die tweede stel oorheers met die kishoue wat hy begin inryg het, maar kon toe nie die valbylpot wen nie.

Djokovic was meesterlik daarin om in een uur en 36 minute te seëvier.

Hy kom nou in die halfeindronde te staan teen Dominic Thiem van Oostenryk, terwyl Rafael Nadal van Spanje en die Rus Daniil Medvedev in die ander halfeind slaags is.

Die eerste gekeurde Djokovic het Vrydag vroeg voorgeloop nadat Zverev sy eerste afslaan verloor het.

Dit was kompleet of die Duitser nog nie heeltemal wakker was van ’n middagslapie nie. Toe hy uiteindelik ontwaak, was dit te laat.

Djokovic het in die sewende pot twee breekpunte teen hom te bowe gekom en seker gemaak sy vroeë deurbraak was die enigste van die eerste stel. Hy het dit in 33 minute beklink.

Zverev het ná sy tien kishoue in sy vorige wedstryd teen Diego Schwartzman Vrydag 12 gemoker, maar ook ses dubbelfoute begaan..

Zverev het ná sy tien kishoue in sy vorige wedstryd teen Diego Schwartzman Vrydag 12 gemoker, maar ook ses dubbelfoute begaan, volgens atptpour.com.

Hy het in die tweede stel sy stem behoorlik dik gemaak.

Zverev was veral gefrustreerd toe Djokovic ná ’n dubbelfout in die vierde pot van die tweede stel ’n derde breekpunt teen hom in die wedstryd oorleef het.

Dié kanse was aan die einde die verskil.

Die eindstryd is Sondag om 20:00 (SA tyd).

• TV: Halfeindstryde Saterdag om 16:00 en 22:00 (SS 214).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.