Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic: ‘Dit was een van my bestes nog’

Novak Djokovic gaan vir die res van sy lewe sy indrukwekkende halfeindstryd-oorwinning oor Rafael Nadal by die Franse Ope koester.

Dié stryd word reeds deur kenners as een van die bestes nog op ’n kleibaan beskou. Dit het 4 uur en 11 minute geduur en was die 58ste ontmoeting tussen die paar. Djokovic het met 3-6, 6-3, 7-6(4), 6-2 gewen om Nadal net sy derde nederlaag in 108 wedstryde by Roland Garros toe te dien, en die Spanjaard van 'n 14de agtereenvolgende sege in die Franse Ope se halfeindronde te hou.

Novak Djokovic beskou sy halfeindstryd teen Rafael Nadal by die Franse Ope as een van sy beste vertonings tot nog toe. Foto: Getty Images

“Dit was definitief die beste wedstryd waarvan ek al ooit deel was by Roland Garros," het Djokovic agterna gesê. "Dis ook onder die voorste drie wedstryde van my hele loopbaan, veral gegewe die gehalte van die tennis. En omdat ek teen my grootste teenstander gespeel het op die baan waar hy soveel sukses behaal het en die oorheersende faktor oor die afgelope 15 jaar was.

"Die atmosfeer was ook heeltemal elektries. Dit was net een van daardie aande en wedstryde wat ek altyd sal onthou.

“Om teen Rafa op hierdie baan te seëvier moet jy jou beste tennis speel en vanaand (Vrydagaand) het ek my beste tennis gespeel. Dit is moeilik om op te som hoe ek voel. Jy probeer vir jouself sê dat daar geen druk is nie, maar daar is. Druk is ’n voorreg – om my spel en karakter te toets in wedstryde soos hierdie.”

Nadal het ’n stelling gemaak toe hy vroeg in die vierde stel deurgebreek het, maar dit was Djokovic wat in beheer was vir die grootste deel van die wedstryd. Veral in die vierde stel het die Spanjaard nie antwoorde gehad nie.

Djokovic reken dat dit hom nie te veel gepla het dat hy die eerste vyf potte verloor het nie.

“Al het ek nie ’n goeie begin gehad nie, was ek nie senuweeagtig nie, want ek het gevoel asof ek die bal goed tref.

Hierdie is die tipe wedstryd wat ons laat aanhou tennis speel.

“Dit was net ’n geval van ek wat myself in die wedstryd moes kry en by sy houe aanpas, wat heeltemal anders as enige ander speler se houe is.

“Maar ek was gereed. Ek het fisiek en geestelik goed gevoel. Ek was gemotiveerd. Ek het ’n duidelike plan gehad met my taktiek en geweet wat ek moet doen om beter te vertoon as in verlede jaar se eindstryd (wat Djokovic in skoon stelle teen Nadal verloor het).”

Nadat die eerste drie stelle in ’n titaniese armdrukkery ontaard het, het dit gelyk of die wedstryd met ’n leë stadion sou eindig as deel van Parys se aandklokreël wat om 23:00 ingetree het, maar die besluit is geneem dat die toeskouers kon bly.

“Gegewe waardeur ons gegaan het in die wedstryd voor die aankondiging, dink ek albei van ons wou hê die toeskouers moes bly,” het Djokovic verder gesê.

“Daar was ongelooflike ondersteuning vir ons albei. Hierdie is die tipe wedstryd wat ons laat aanhou tennis speel.”

Nadal het gehoop om Sondag sy 21ste Grand Slam-titel te wen, wat hom die alleenrekord sou gee, en is vooraf as die gunsteling beskou op grond van sy slagting van Djokovic in verlede jaar se eindstryd.

Nadal was grootmoedig nadat hy die knie gebuig het. Hy het blykbaar ’n voetbesering, wat hom moontlik aan die einde van die maand uit Wimbledon kan hou.

“Ek het ’n groot kans gehad met stelpunt op 6-5 op sy tweede afslaan in die derde stel, maar ek het dit nie gevat nie,” het Nadal gesê.

“Dit is dit. Enige iets kon in daardie oomblik gebeur. Daarna het ek ’n dubbelfout begaan en ’n maklike vlughou gemis in die uitkloppot.

“Hierdie tipe foute kan gebeur. Maar as jy wil wen, dan kan jy nie foute maak nie.”

Djokovic sal nou probeer herstel voordat hy Sondag in die eindstryd teen Griekeland se Stefanos Tsitsipas te staan kom. – Sportredaksie, Eurosport, tennis365.com

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Rafael Nadal  |  Roland Garros  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.